Merkwaardige Letchen weer op pad na VSA

Letchen du Plessis. Foto: Verskaf.

Letchen du Plessis gaan vandeesweek weer eens haar fiksheid op die groot verhoog uitstal wanneer sy aan die Wodapalooza-kompetisie in Miami deelneem.

Die Pretorianer het verlede Augustus op die podium by die CrossFit-spele gestaan toe sy tweede in die fiksheidskouspel se Adaptive-kategorie geëindig het.

Sedertdien was sy allesbehalwe ledig.

Sy het intussen haar graad by Akademia verwerf (“iets waaroor ek super bly is”), ’n lekker kontrak met USN onderteken, bevordering by die werk gekry en natuurlik vir die Miami-avontuur voorberei.

“My mikpunt is beslis om weer vir die Spele te kwalifiseer. Dit is die laaste jaar wat dit in Madison, Wisconsin, aangebied sal word en dit kan net lekker wees. Maar ek sien ook baie na Wodapalooza uit,” het sy laat weet.

Letchen droom om weer vir die CrossFit-spele te kwalifiseer. Foto: Verskaf.

Nou vir diegene wat nie weet nie, Wodapalooza is een van die gewildste CrossFit-kompetisies en onder die deelnemers tel sterre soos Patrick Vellner, Scott Panchik, Sara Sigmundsdottir en die opwindende Guilherme Malheiros.

Elkeen van hulle is CrossFit-sterre in hul eie reg, maar Letchen se storie is beslis een van die merkwaardigste.

Sy het in 2017 haar heup op die netbalbaan beseer en ná een van haar vele operasies is distonie by haar gediagnoseer – ’n neurologiese toestand wat onwillekeurige sametrekking en spasma van die spiere veroorsaak.

“Dit was ’n lang pad om tot hier uit te kom. Ek moes byvoorbeeld in 2019 weer van vooraf leer loop; om van daar tot by die [CrossFit-] Spele te vorder is iets waarop ek baie trots is.”

Sy sukkel met die heupbuigspiere van haar een sy en moet gevolglik met krukke hardloop. By die Spele is daar egter aan haar gesê dat sy nie met die hulpmiddel mag hardloop nie en sy moes die hardloopgedeelte van die eerste oefensessie op een been voltooi.

“Ek moes dus vyf kilometer so te sê op my een been hardloop en dit het my redelik seergemaak. Maar ek het deurgedruk en vir myself gesê dat ek hierdie item sál klaarmaak en al was ek heel laaste kon ek dit in minder as 40 minute voltooi,” het sy trots ná die tyd gesê.

Tog lyk dit of haar loopbaan van krag tot krag gaan.

“As ’n CrossFit-atleet moet jy ’n fyn balans tussen fiksheid en krag handhaaf, maar ek dink nie ek was al ooit so fiks soos nou nie.”

Maar CrossFit se grootste trekpleister bly vir haar die pretfaktor en die mense wat sy deur die sport leer ken.

“Dit bly die hoogtepunt van die dag om die mense by die gimnasium te sien. Die lekkerste ding van CrossFit is om iets te doen wat jy aanvanklik gedink het jy nooit weer sal kan doen nie. Dit is wat daagliks vir my motivering sorg.”

Dit is duidelik dat Letchen du Plessis se CrossFit-storie nog lank nie verby is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-Man

Laaste sin van die artikel kort bietjie oefening.

Jack

Dis alles baie mooi en goed en wel, maar mense wat hulle liggame tot die uiterste inspan, in so ‘n mate dat hulle beserings aan ligamente en gewrigte opdoen, moet weet dat hulle op hulle oudag die prys daarvoor gaan betaal.