‘Michael Schumacher is die beste renjaer nóg’

’n Jong Sebastian Vettel en Michael Schumacher. Foto: Patrik Stollarz/AFP.

Vir Sebastian Vettel is daar net een antwoord op die vraag wie die beste renjaer nóg is: Michael Schumacher.

Die viermalige wêreldkampioen het al vantevore gesê dat daar nie sommer weer ’n renjaer soos die Ferrari-legende sal wees nie. En hy staan steeds by sy standpunt.

“Michael is my held,” het Vettel gesê.

Schumacher het in sy roemryke loopbaan sewe keer die wêreldtitel verower, maar indien alles volgens plan vir Lewis Hamilton in Abu Dhabi verloop, sal hy die Duitser se rekord met sy agtste titel verbeter.

Tog kan die Mercedes-man kwaai teenstand van Red Bull se Max Verstappen verwag en volgens Vettel verdien dié twee renjaers dit om sake vir die wêreldtitel uit te spook.

“Ek sal daarvan hou as Max vir Lewis van die titel weghou bloot sodat Michael se rekord staande kan bly. Maar om eerlik te wees, Lewis kan een, twee of selfs vyf verdere wêreldtitels inoes; Schumacher sal steeds die beste wees.”

Fernando Alonso is ook in Verstappen se hoek.

“In my oë is Max die beste renjaer van ons almal. As dit nie vir ’n klein botsing was nie, was hy goed op koers om die vinnigste kwalifiserende ronde in Saoedi-Arabië op te stel. En daardie ronde sou dan aan sy bestuursvernuf te danke gewees het; nie die krag van die Red Bull nie,” het die 40-jarige Spanjaard gesê.

Die finale hoofstuk van ’n baie opwindende F1-seisoen begin Sondag om 15:00. Al die drama en aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Hehehe, suur druiwe maar ek stem saam met hom.
Lewis is geen Schumacher

Tanja ·

Ek wil saam stem met Sebastian Vettel, Micheal Schumacker was nie net ń uitsteekende Formula 1 renjaer nie, maar hy was ń absolute puik sportman met goeie gees en houding en beslis ń voorbeeld vir baie sportmanne

Dorkie ·

Niemand kan of sal ooit beter bestuur as Ayrton Senna nie.

Elinette ·

Net jammer dat Ayrton Senna die betonmuur by die Tamburello-draai teen ongeveer 233km/uur getref het en dodelik beseer is. Hy het in elk geval net 3 wêreldkampioenskappe gewen op die ou einde. As hy oorleef het, sou dit dalk ‘n ander saak gewees het.

Richard ·

Nie een van die manne hier genoem is so goed soos Ayrton Senna nie.

Barend ·

Ek ondersteun Hamilton glad nie, maar hy is nog nie soos Schumacher met ‘n hele seisoen se punte gestraf nie. Senna het my steun.

piet ·

Hang af van die tipe jaer wat mens van hou. Schumacher was waarskynlik die mees “gebalanseerde” jaer in terme van “presisie” en “aggressie”. Ook baie gewild onder die publiek (soos Federer in tennis). Het nie baie kanse gevat nie maar kon aggressief wees as hy moes. Prost was die veiliger/presisie jaer wat nie sommer ‘n kans sou vat nie, ek het ook baie van hom gehou. Senna en Verstappen is growwe/aggressiewe jaers met min finesse. Senna was net baie beter as Verstappen. Hamilton kom naaste aan Schumacher in my opinie om die perfekte balans te handhaaf. Meer aggressief as Schumacher maar hou darem binne perke. Verstappen nog nie by die genoemde manne se gehalte nie, moet nog baie leer. Sy kop haak uit by tye dan raak hy ‘n gevaar op die baan vir ander jaers. Ek dink nie hy het die temperament (en vermoe) om tot op die hoogtes van die genoemde manne te styg nie.

Carel ·

Soek die YouTube video van Jeremy Clarkson oor die Dokumentêr “Ayrton Senna”

Daarin maak Michael Schumacher sélf die opmerking dat Ayrton Senna die beste renjaer van alle tye is.
Jeremy Clarkson hys dit wit vlag en kapituleer dat Gilles Villeneuve nie meer sy persoonlike voorkeur kandidaat is vir beste renjaer nie, maar dat die dokumentêr “Senna” hom van opinie laat verander het

Neem óók in gedagte dat Ayrton Senna gejaag het in die era van V12 monsters met géén elektroniese hulpmiddels soos ABS /anti-skid / stability control ens nie

Kyk bietjie na die YouTube video van die Brasiliaanse Staatsbegrafnis wat Ayrton Senna ontvang het; dan besef ‘n mens eers wie die man werklik was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.