Mick dalk na Alfa Romeo?

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Volgens die F1-riemtelegram is daar ’n moontlikheid dat Mick Schumacher deel van die Alfa Romeo-span vir die 2022-seisoen kan word.

Die 22-jarige seun van die F1-legende is tans deel van die Haas-opset, maar hy voer ’n opdraande stryd weens die span se stadige renmotor.

“Ek is baie bly om te sien dat Mick goed agter die stuur vertoon. Hy sit gereeld vir sy spanmaat (Nikita Mazepin) ore aan, maar hy maak ook ’n paar foute,” het die voormalige wêreldkampioen, Jacques Villeneuve, gesê.

Maar met die onsekerheid van Kimi Raikkonen en Antonio Giovinazzi se Alfa Romeo-kontrakte, is daar ’n kans dat Schumacher agter die stuur van een van hierdie motors kan skuif.

Tog lê die jong renjaer se lojaliteit nog by Haas, maar hy het nie die moontlikheid van ’n toekomstige skuif uitgesluit nie.

“Ek het nog nie veel aandag aan volgende jaar geskenk nie en ons wag maar om te kyk wat gebeur. Ek sal egter seker dadelik weet as iets sou verander,” het Schumacher aan Duitse media gesê.

Iemand soos Bernie Ecclestone het al vantevore gesê dat Haas nie die beste span vir die jong renjaer is nie.

“Ek kry hom ’n bietjie jammer. Hy beskik oor goeie eienskappe wat ’n aanwins vir F1 is en hy het wonderlik in die F2-afdeling presteer, maar ek weet nie of hy veel by sy huidige span kan leer nie,” het die 90-jarige Ecclestone gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.