Mick gaan sy buiging in F1-oefensessie maak

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Mick Schumacher se droom om binnekort sy F1-buiging te maak het ’n hupstoot gekry met die nuus dat hy deel van die oefenrondes vóór die Duitse Grand Prix by die Nürburgring sal wees.

Die 21-jarige renjaer sal agter die stuur van ’n Alfa Romeo klim, terwyl ander opkomende Ferrari-sterre soos Callum Ilot en Robert Schwartzman ook geleenthede kry om hul staal te wys.

Die jong Schumacher het juis gister op die Fiorano-baan in Italië litte vir die geleentheid begin losmaak toe hy in ’n 2018 Ferrari-renmotor rondgejaag het.

Die oefensessie in Duitsland is ’n ernstige saak: Alfa Romeo word wyd en syd as Ferrari se junior span bestempel en met ’n groentjie in Antonio Giovinazzi en ’n veteraan in die 40-jarige Kimi Räikkönen agter die stuur, kan Schumacher dalk op ’n meer permanente grondslag deel van die F1-aksie word.

“Die afgelope sessie in Italië was baie nuttig om weer gewoond aan alles te raak – dinge kan maar lekker ingewikkeld raak op hierdie hoë vlak,” het Schumacher ná sy oefenlopie gesê.

“Ek kan nie wag om in Duitsland agter die stuur te klim nie. Dit gaan ’n ongelooflike ervaring wees om vir die eerste keer deel van ’n oefensessie voor my tuisskare te wees.”

Mick se pa, die legendariese Michael Schumacher, hou onder meer die rekord vir die meeste F1-oorwinnings, maar Brittanje se Lewis Hamilton is goed op koers om sy rekords te verbeter.

Die vlieënde Brit se prestasies is egter vierkant in die jong Schumacher se visier.

“Ek dink Lewis het ’n baie goeie lopie gehad, maar my pa het altyd gesê dat rekords opgestel word sodat hulle weer verbeter kan word.”

  • Puntestand in die F2-kompetisie:
  1. Mick Schumacher 191 punte
  2. Callum Ilot 169 punte
  3. Yuki Tsunoda 147 punte
  4. Christian Lundgaard 145 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.