Wanneer die F1-renmotors hierdie Sondag in Bahrein bulderend wag om weg te spring, sal daar weer ’n Schumacher tussen die bestuurders op die wegspringrooster wees.
Die 22-jarige Mick Schumacher, seun van die legendariese Ferrari-renjaer Michael, se F1-wedrenloopbaan sal amptelik begin wanneer hy vir die eerste keer in sy Haas-motor versnel.
Talle Maroela Media-lesers het al opgemerk dat Mick baie na sy pa trek, terwyl oorsese joernaliste skryf wanneer jy na hom luister en jou oë toemaak, kan jy hom ook maklik met sy pa verwar.
Tog sien Mick uit na Sondag se aksie in Bahrein. En nee, sy pa se gewildheid en goeie naam sal nie ’n stok in sy wiel wees nie.
“My van is beslis nie vir my ’n las nie; ek is trouens baie dankbaar daaroor. Ek is ’n renjaer omdat ek mal is oor die sport,” het die jong Schumacher gesê.
Volgens Mick is hy trots daarop dat sy beroemde van weer op F1-verslae, -reklameborde, ensovoorts sal pryk.
Dit is egter ook belangrik om sy eie pad na die hoogste plek op die podium te volg.
Hy het al met die louere in die F2- en F3-afdelings van die sport weggestap; ’n prestasie waarmee gevestigde F1-renjaers soos Max Verstappen en Daniel Ricciardo nie saam kan gesels nie.
“Ek dink daardie twee kampioenskaptitels is ’n bewys aan myself dat ek darem kan bestuur!”
Iemand soos Verstappen het al juis vantevore gesê dit sal gevaarlik wees om pa en seun met mekaar te vergelyk.
“Dit is oor die algemeen deksels moeilik om iemand met Michael Schumacher te vergelyk, juis omdat hy so baie gewen het,” het die Red Bull Racing-renjaer gesê.
“Ek dink dit is die hoofrede waarom Mick nie noodwendig met sy pa vergelyk moet word nie. Hy is natuurlik Michael se seun, maar hy is ook uit eie reg ’n renjaer.”
Tog het die 23-jarige respek vir die jonger Schumacher se vermoëns agter die stuur.
“Hy is ’n talentvolle bestuurder en veral sy verbysteek-vermoëns is baie goed. Boonop het hy ook glad nie te sleg in die F2-reeks gevaar nie.”
Daarbenewens is Mick nie iemand wat bang is om foute te maak nie, terwyl hy terselfdertyd ook baie respek vir sy pa se raad en kundigheid het.
Lewis Hamilton het verlede jaar van Michael se rekords in sy Mercedes verbeter en hierdie prestasies is nou vierkant in die Haas-renjaer se visier.
“Ek dink Lewis het ’n baie goeie lopie gehad, maar my pa het altyd gesê rekords word opgestel sodat hulle weer verbeter kan word. My volgende doelwit is om weer Lewis se rekords te verbeter,” het Mick verlede jaar gesê.
Selfs al kan dit ’n rukkie neem om sy voete tussen die F1-hardebaarde te vind – hy gaan kwalik vir Hamilton in ’n Haas plattrek – kan jy maar solank jou veiligheidsgordel stywer trek: ’n Schumacher saam met ’n Alonso en ’n Vettel sorg ongetwyfeld vir F1-opwinding.
As Hamilton nie in ‘n Mercedes gery het nie, sou ons nie die heeltyd aan sy idiotiese stellings blootgestel gewees het nie
Presies. Hy is ‘n egoistiese grootbek, al wat hom goed maak is sy kar. Sit hom in ‘n Haas en kyk of hy nog so goed is.
Los die kind om sy eie loopbaan uit te kerf. Hy dra reeds swaar aan sy van, en sy pa se roem. Ek kan nie dink dat daar so groot ophef van Nico Rosberg gemaak was nie, en hy het wêreld kampioen geword op meriete, mind you, om die hoog heilige Hamilton te wen! Mick, geniet dit en laat jouself geld.
Sit Mick Schumacher, of enige ander goeie renjaer, in die Mercedes en hy sal Hamlilton in die grond in jaag. Sit Hamilton in die Haas en kyk of sy bek nog so groot is.