Mick Schumacher gaan in sy pa se Ferrari jaag

Mick Schumacher. (AP Photo/Kamran Jebreili)

Met Charles Leclerc en Sebastian Vettel wat onderskeidelik sewende en 13de op die individuele punteleer is en die span wat die sesde plek op die ranglys beklee, het Ferrari-ondersteuners uiteindelik iets om vanjaar oor te glimlag.

Mick Schumacher gaan Sondag in sy pa, die F1-legende Michael Schumacher, se voetspore volg wanneer hy ’n rondte om die Mugello-renbaan in Italë ry.

Ferrari vier sy 1 000ste Grand Prix en die jong Schumacher sal in sy pa se helderrooi Ferrari F2004-renmotor om die baan jaag. Dit is die einste motor waarmee Michael sy sewende en laaste wêreldtitel in 2004 gewen het.

Die 21-jarige Mick is tans deel van Ferrari se F2-span en hy het sy wedren verlede week in Monza gewen. Dit sal egter nie die eerste keer wees dat hy sy pa se renmotor bestuur nie – hy het verlede jaar ook ’n vinnige sessie op die Hockenheim-baan in Duitsland gehad.

Michael Schumacher. Argieffoto.

“Dit sal ’n gepaste huldeblyk aan Scuderia se suksesvolste motor en bestuurder wees,” het Ferrari in ’n verklaring gesê.

Die Italiaanse motorreuse is nie net dié sportsoort se oudste en suksesvolste span nie, maar ook die enigste groep wat in elke seisoen sedert 1950 op die renbaan in aksie was.

Leclerc en Vettel se renmotors sal ook in die kleure van die eerste motor met die kenmerkende Ferrari-embleem daarop, die 125S, getooi wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Gee hom sommer die 2020 motor ook om te ry, miskien stof hy nog vir hulle bestaande bestuurders uit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.