Mick Schumacher op koers na F2-glorie

Mick Schumacher. (AP Photo/Kamran Jebreili)

Met slegs ’n paar oorblywende wedrenne op die resieskalender oor, staan Mick Schumacher ’n uitstekende kans om met die louere in die F2-reeks weg te jaag.

Die 21-jarige seun van die legendariese Michael Schumacher het tans 191 punte op die punteleer; 22 punte meer as Callum Ilot in die tweede plek.

Boonop is die kanse ook goed dat hy in die afsienbare toekoms die sprong na F1-wedrenne kan maak –  die storie van ’n Schumacher terug in dié arena sal enige Hollywood-draaiboekskrywer laat regop sit.

Hoewel hy oorgehaal is om sy staal tussen die hardebaarde te wys – hy het juis in ’n vorige onderhoud gesê dat hy Lewis Hamilton se rekord sal wil verbeter – weet hy dat daar nog baie water in die see sal moet loop.

“My langtermyn doelwit is om regmerkies langs al die boksies van ’n suksesvolle en veelsydige renjaer te maak,” het Schumacher gesê.

“Wanneer ek die sprong na die F1-reeks maak, wil ek so voorbereid as moontlik wees. Terselfdertyd dink ek dat ’n mens ook eers ’n bietjie moet sukkel, want dit is in daardie tye wat jy die meeste leer.”

Hy verwys natuurlik hier na sy F2-buiging in 2019, toe hy die seisoen in die 12de plek voltooi het.

Mick Schumacher in sy pa se Ferrari. (Jennifer Lorenzini, Pool via AP)

“Verlede jaar was ongelooflik belangrik omdat ek ’n waardevolle les geleer het: Jy moet eers leer om die kleiner detail van ’n wedren te verstaan voordat jy enigsins aan podiumplekke kan dink.”

Vroeër het Max Verstappen gewaarsku dat dit onregverdig sal wees om Mick en Michael Schumacher met mekaar te vergelyk.

“Dit is oor die algemeen deksels moeilik om iemand met Michael Schumacher te vergelyk, juis omdat hy so baie gewen het,” het die Red Bull Racing-renjaer gesê.

“Ek dink dit is die hoofrede waarom Mick nie noodwendig met sy pa vergelyk moet word nie. Hy is natuurlik Michael se seun, maar hy is ook in eie reg ’n renjaer.”

Tog het die 23-jarige jaer respek vir die jonger Schumacher se vermoëns agter die stuur.

“Hy is ’n talentvolle bestuurder en veral sy verbysteek-vermoë is baie goed. Boonop vaar hy ook glad nie te sleg in die F2-reeks nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek was ‘n Michael-fan. Nou gaan ek hierdie jongman dophou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.