Moenie nou klippe na Wayde gooi nie, hoewel …

Wayde van Niekerk – lank van die baan af
(Foto: Facebook IAAF World Athletics Club)

Waar trek ʼn mens die streep?

Het Wayde van Niekerk met vuur gespeel toe hy ʼn paar weke gelede op Nuweland raakrugby gespeel het en sy regterknieligamente in ʼn fratsongeluk geskeur het toe die sokkerspeler Benni McCarthy hom probeer keer het?

Was dit ʼn dom besluit om te speel, soos die oud-stut en Blou Bulle se destydse spandokter, Henry Kelbrick, dit gestel het ?

Die feit is dat Van Niekerk – ek is seker hy speel soos enige ander jongmens ook ʼn bietjie raakrugby, sokker, krieket (onthou julle nog ‘French-krieket’ in die agterplaas?), tennis (‘swing ball’) en basketbal  wanneer hy die kans kry – se atletiekloopbaan nou in die gedrang is.

Volgens alle aanduidings sal Suid-Afrika se wonderatleet tussen agt en 12 maande langs die kantlyn wees, met die oog op rehabilitasie en om te sorg dat daar nie een of twee honderdstes van ʼn sekonde ingeboet word nie wat die verskil  tussen ’n goue en silwermedalje kan beteken.

♦  Daar was nog net vier atlete wat Springbokkleure in atletiek en rugby verwerf het: Attie van Heerden, Poens Prinsloo, Kerneels Cronjé en Jaco Reinach.

Van Heerden is die enigste van dié vier wat op ʼn Olimpiese Spele in aksie was. Hy het in 1920 in Antwerpen aan die 400 meter-hekkies ( sy beste tyd was 57,9, maar onthou, dis byna 100 jaar gelede) deelgeneem, maar sonder welslae.

Hy is in 1921 in die Springbokrugbytoerspan ingesluit wat na Nieu-Seeland en Australië getoer het, waar hy twee toetse gespeel het, vyf drieë in die eerste toerwedstryd teen Nieu-Suid-Wallis gedruk het en 14 drieë op die toer gedruk het.

Hy het later ʼn baie suksesvolle rugbyliga-loopbaan in Engeland gehad.

Prinsloo, wie se broer Maans vir die Westelike Provinsie gespeel het, het in 1959 sy Springbokkleure in atletiek verwerf toe hy as paalspringer gekies is om teen die besoekende Wes-Duitse span deel te neem. Hy het 24 keer vir Noord-Transvaal gespeel en is in 1963 in een toets, op Ellispark teen die Wallabies, gekies.

Reinach, pa van die Springbokskrumskakel Cobus, het jare lank die nasionale rekord in die 400 m met ʼn tyd van 45.01 gehou. Sy rekord wat in 1983 opgestel is, is eers 16 jaar later in 1999, twee jaar na sy dood in ʼn motorongeluk, deur Arnaud Malherbe met sy tyd van 44,59 s verbeter.

Malherbe was die eerste Suid-Afrikaanse atleet wat die 400 m in minder as 45 s gehardloop het.

Cronje, wat op die 220-hekkies gekonsentreer het, het in 1965 saam met Dawie de Villiers se span na Australië en Nieu-Seeland vertrek  maar het net in die eerste – nie-amptelike – wedstryd gespeel waar hy beseer is. Hy het nooit van die besering herstel nie en die res van die toer misgeloop.

En daar is ook Pierre Spies (die Bokagtsteman se pa) wat die nasionale rekordhouer in die 110 m-hekkies was; en wat van Jan van der Merwe (400 m en Blitsbok), Herman Venske en ʼn rits ander atlete wat rugby op ʼn hoë vlak gespeel het?

Dis maklik om vingers na Van Niekerk te wys, maar hy kon in enige atletiekoefening sy knie seergemaak het.

Ja, hy moes seker nooit raakrugby gespeel het nie, maar is hy ʼn robot?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carinki ·

Dit is baie jammer, maar dit kon net sowel op die gras in sy agterplaas ook gebeur het. En dit was nie kontakrugby nie – dit was touchies. Hy (of enige ander atleet) kan nie heeltyd op eiers loop nie…
Ek kan net sê: Hoop jy word baie gou gesond! En geniet intussen die tyd saam met jou vrou.

Estelle Oelofsen ·

Ja wel, ons ken die uitdrukking: ‘gister was dit “Hosanna” and vandag is dit “Kruisig Hom”‘

Kiepie ·

As enige iemand gekruisig moet word is dit die publiek en borge wat van top sportmanne verwag om aan hierdie tipe promosies en liefdadigheidaksies deel te neem. Die oordeel sou net so erg, indien nie erger gewees het indien hy die uitnodiging van die hand gewys het want dan was hy mos weer te “grand” vir sy ondersteuners.
Een ding weet ek verseker. Wayde se kop is baie sterk en sy voete is plat op die aarde en Tannie Ans is aan sy sy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.