Monfils wag volgende op Anderson

Kevin Anderson en Gaël Monfils. Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP.

Kevin Anderson is deur na die derde ronde van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië nadat hy Lorenzo Sonego met 7-6 en 7-6 verslaan het.

Die Suid-Afrikaner sal egter sy storie moet ken as hy môre met Gaël Monfils wil afreken.

Die 35-jarige Fransman kom soms met verstommende houe vorendag en dit lyk met tye asof hy ’n rubberballetjie is wat op die baan rondbons.

Hy speel juis deesdae goeie tennis en het met Italië se Gianluca Mager (6-4 en 6-2) afgereken om sy ontmoeting met Anderson te bespreek.

Anderson kon ook nog net een van sy ses wedstryde teen Monfils gewen het. Sy enigste sege was tydens die Wimbledon-toernooi in 2018 toe hy in vier stelle met 7-6, 7-6, 5-7 en 7-6 geseëvier het.

Die 35-jarige Suid-Afrikaner probeer om sy tennisloopbaan weer op koers te kry nadat beserings hom lank op die kantlyn gehou het.

Intussen speel Suid-Afrika se voorste manstennisspeler, Lloyd Harris, vandag teen Casper Ruud in sy derderondewedstryd.

Die 22-jarige Ruud is tiende op die ATP-ranglys en hy het onlangs die San Diego-ope gewen.

Tog het Harris reeds vanjaar met ’n paar tennissterre afgereken. Dink net aan sy wedstryde teen Dominic Thiem, Stan Wawrinka en Rafael Nadal.

Oudergewoonte is sy afslane weer sy sterkpunt en hy het agt kishoue in sy vorige wedstryd afgevuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.