Moordende Dakar-veldtydren eis nóg ’n slagoffer

Pierre Cherpin (regs) gedurende die eerste skof van die Dakar-veldtydren. Foto: ASO/AFP.

Die moordende Dakar-veldtydren het nog ’n slagoffer geëis toe Pierre Cherpin Vrydagoggend aan sy beserings dood is.

Die 52-jarige Fransman het verlede Sondag van sy motorfiets geval en ʼn reddingspan in ʼn helikopter het hom bewusteloos in die woestyn aangetref. Hy is dadelik na ʼn hospitaal in Saoedi-Arabië gehaas waar hy vir sy beserings behandel is.

Volgens France TV het die motorfietsryer ernstige hoofbeserings en ʼn gekraakte ribbe opgedoen. Een van sy longe het ook platgeval.

Cherpin het ʼn noodneuro-operasie ondergaan en is daarna in ’n kunsmatige koma geplaas.

Dokters en familielede was aanvanklik optimisties oor sy herstelpad en daar was geen komplikasies ná die operasie nie. Dakar-organiseerders het egter vandag bevestig dat hy op pad terug na Frankryk dood is.

“Pierre Cherpin is tydens die mediese oorplasing van Jeddah na Frankryk dood aan die beserings wat hy tydens sy val opgedoen het,” is daar in ʼn amptelike verklaring gesê.

Dit was die Fransman se vierde Dakar-tydren en volgens die organiseerders was Cherpin iemand wat van avontuur gehou het; ʼn podiumplek het nie veel saak gemaak nie.

Cherpin het voorheen in ʼn onderhoud gesê dat hy ʼn amateur-motorsportgeesdriftige is – om nuwe plekke te ontdek is baie belangriker as enige medalje.

“Alles waarvoor die Dakar staan maak my opgewonde: Om die motorfiets te ry, om jou passie uit te leef en om jouself te leer ken.”

Verlede jaar is Paulo Goncalves en Edwin Straver tydens die Dakar-tydren dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Die motorfietsjaers in die Dakar is die werklike helde van die tydren. Uiters gevaarlik om teen daai spoed in daai omstandighede met ‘n motorfiets te ry en aan die genade oorgelaat as jy val.

RS

Waarom word dir ren nog gehou?