Morné draf 72 agtereenvolgende trapmeul-marathons

Morné Basson poog om 72 halfmarathons in 72 dae ten bate van motorneuronsiekte-lyers te voltooi. Foto: Facebook.

Die eerste man ter wêreld wat die afstand van die Comrades-ultramarathon op ’n plesierskip se trapmeul gehardloop het, se langasem-liefdadigheidswerk duur voort.

Morné Basson poog nou om 72 agtereenvolgende halfmarathons (21,1 km) op ’n trapmeul kaf te draf – alles ten bate van motorneuronsiekte-lyers.

“Ek het ’n familielid wat so 15 jaar gelede aan MNS oorlede is. Hoewel ons nie baie ná aan mekaar was nie, was dit hartverskeurend om te sien wat die siekte aan ’n mens, asook die familie wat na hulle omsien, doen. Die feit dat die lyers gevange in hul eie liggaam geneem word, terwyl hul verstand nog 100% funksioneer, het my baie geraak,” het Basson aan Maroela Media gesê.

Juis daarom het hy met sy jongste bewusmakingsveldtog begin: 72 agtereenvolgende halfmarathons in 72 dae op verskillende Planet Fitness-trapmeule oor die hele land. Indien hy suksesvol is, sal sy naam in die Guinness-wêreldrekordboek opgeneem word.

Hy het vroeër die week sy 37ste halfmarathon voltooi – die wêreldrekord is tans 52.

Maar ’n bewusmakingsveldtog en wêreldrekordpoging kan ’n man moeg maak; om ook nie eens van die eentonigheid van 21 km op ’n trapmeul te praat nie.

“Dit is inderdaad baie eentonig op die trapmeul, maar weer eens is dit niks in vergelyking met wat ’n MNS-lyer daagliks moet trotseer nie. Hulle is beslis my inspirasie.”

“’n Mens se onderbewussyn beheer 95% van jou doen en late en ek weier om enige negatiewe gedagtes toe te laat. Ek visualiseer daagliks hoe ek die afstand suksesvol voltooi. My grootste motivering is die MNS-pasiënte wat enigiets sal doen om weer te kan hardloop.”

Hoewel hy moeg word, klim hy hoegenaamd nie van die trapmeul af nie en daar is heeltyd ’n kamera op hom gerig om sy wêreldrekordpoging vas te vang.

“Deel van die reëls is dat ek glad nie aan die kant van die trapmeul mag raak of vashou nie – dit maak dit uiters uitdagend om heeltyd gefokus te bly en nie jou balans te verloor nie. Dus moet ’n mens maar knyp wanneer moeder natuur roep,” skerts hy.

Tussendeur help sy ondersteunerspan dat sy veldtog nie momentum verloor nie.

“Ek kry fantastiese ondersteuning van mense wat vir my bid, bel en boodskappe op sosiale media stuur. Dan gebruik ek fantastiese aanvullings, het ’n sportterapeut wat my bene aan die gang hou, terwyl ek probeer om genoeg te eet en te slaap.”

  • Basson maak gebruik van ’n skarefinansieringsprojek (https://www.backabuddy.co.za/champion/project/72-half-marathons) om sy veldtog finansieel te ondersteun.
  • “Dit help ook om die koste te dek vir die dokumentêre program wat ons wil opneem oor MNS-lyers. Ons wil hierdeur vir die wêreld wys waardeur hierdie mense, hul families en versorgers daagliks moet worstel. Daar is min ondersteuning van die regering, min of geen bystand van mediese fondse of lewensversekeringsmaatskappye nie. Dit is een van my hoofdryfkragte en ek is baie uitgesproke hieroor.”
  • Dit neem hom ongeveer twee uur om ’n halfmarathon op die trapmeul te voltooi.
  • Hy het in 2015 die afstand van die Comrades-marathon aan boord van die luukse plesierskip, die Celebrity Solstice, voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.