Morné trap 5 184 km in 72 dae

Morné Basson. Foto: Verskaf.

Terwyl die meeste van ons ’n bietjie aan ons energiedrankies stik wanneer ’n kennis ons uitnooi om ’n spinning-klas by die plaaslike gimnasium by te woon, het Morné Basson 5 184 km op sy stilstaande fiets kafgedraf.

In 72 agtereenvolgende dae.

Basson – wat al vantevore 72 agtereenvolgende trapmeulmarathons aangedurf het – het sy unieke uitdaging oudergewoonte weer ten bate van The Character Company se #Bthat1-inisiatief aangepak.

“Hierdie is heeltemal buite my gemaksone. Die laaste keer wat ek werklik hard geoefen het, was toe ek die Comrades by my huis voltooi het; dus was ek lekker onfiks, terwyl fietsry ook nie eintlik my sterk punt is nie,” het Basson in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

Maar die afgelope naweek het die avontuur by die Valley View Centre se Planet Fitness in Krugersdorp tot ʼn einde gekom.

“Dit was ’n baie taai uitdaging vir iemand wat nie eintlik ’n fietsryer is nie. Ek dink die ding wat jou die meeste vang, is die feit dat daar geen rusdae tussenin is nie.”

Benewens The Character Company – wat uitstekende werk onder jong seuns doen wat sonder ’n manlike rolmodel grootword – is dit vir hom ’n voorreg om sy fiksheid uit te leef.

“Daar is so baie mense wat enigiets sou gee om ’n fiets te kan trap of om te draf, maar dit is weens omstandighede nie vir hulle beskore nie.

“Die laaste dag was ongelooflik spesiaal en ek is so dankbaar jeens my Hemelse Vader vir gesondheid en krag.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.