Moto GP: Derde oorwinning in ʼn ry vir Marquez

Marc Marquez tydens ‘n vorige geleentheid. (Foto: marcmarquez93, Twitter)

Die vyfde Moto GP van die seisoen is Sondag op Le Mans in Frankryk voor 105 000 toeskouers gejaag. Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) en Andrea Dovizioso (Ducati) het albei geval en hul kanse verspeel om punte in te samel.

Marc Marquez (Repsol Honda) het die wedren oor 27 rondes oorheers en sy derde oorwinning ʼn ry behaal. Danilo Petrucci (Alma Pramac Ducati) was tweede en Valentino Rossi (Yamaha) derde.

Die een vraag voor die wedren was hoe die twee Ducatis van Jorge Lorenzo en Andrea Dovizioso sou reageer nadat albei in die vorige wedren in ʼn ongeluk betrokke was. Daar sou ook fokus wees op die minder bekende jaers en ouer manne wat hul stem begin dik maak dié seisoen. Voor die wedren is LCR Honda se Cal Crutchlow hospitaal toe geneem na ʼn harde val tydens die kwalifiseringsrondes in draai nege.

Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) het die eerste plek op die wegspringrooster ingeneem met die voorloper op die punteleer, Marc Marques (Repsol Honda), tweede. Danilo Petrucci (Alma PramacDucati) was derde, Andrea Iannone (Suzuki) vierde en Andrea Dovizioso (Ducati) vyfde.

Met die wegspring het Jorge Lorenzo voor die eerste draai van sesde tot die eerste plek opgeskuif. Die twee Ducatis was gou eerste en tweede met Zarco derde en Marques vierde.

In die vyfde ronde het Dovizioso (Ducati) wat voor was in ʼn draai gegly en sy wedren was iets van die verlede. Twee rondes verder het dieselfde lot Zarco getref en dit het Lorenzo in die eerste plek gelaat met Marques tweede en Petrucci derde.

Met 18 rondes oor het Marques die voortou geneem met Petrucci tweede en Lorenzo derde. By die halfpadmerk het Rossi (Yamaha) by Petrucci (Ducati) verby geskuif om die derde plek in te neem.

Marquez (Repsol Honda) is nou nog verder voor op die punteleer en spog met 95 punte. Maverick Vinales (Movistar Yamaha) is tweede met 59 punte en Zarco is steeds op 58 punte. Rossi is op 56 punte vierde.

In die Moto2-afdeling was Brad Binder negende en Steven Odendaal 17de. In Moto3 het Darryn Binder 11de geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.