Moto GP: Drie ongeluksvoëls gaan terugveg

Dani Pedrosa en Valentino Rossi. Foto: AP Photo/Eric Gay

Die vyfde Moto GP van die seisoen word Sondag op Le Mans in Frankryk gejaag. Die eerste oefenrondes vind Vrydag plaas terwyl die kwalifisering Saterdag tussen 14:00 en 15:00 afgehandel word om die wegspringrooster te bepaal.

Die groot vraag op almal se lippe is hoe die twee Ducatis van Jorge Lorenzo en Andrea Dovizioso gaan reageer nadat hulle beide uit die wedren was ná ʼn ongeluk. Marc Marques (Repsol Honda) se spanmaat, Dani Pedrosa, was in dieselfde ongeluk as die twee Ducatis en hy moes ook toekyk hoe hy geen punte op die punteleer kon insamel nie.

Gepraat van Spanje. Die wedren, op die Jerez-baan, is gemaklik deur die verdedigende wêreldkampioen Marc Marques gewen. Dit was die 25-jarige Marques se 105de keer wat hy in 172 wedrenne op die wennerspodium was. Hy was gevolg deur Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) vyf sekondes ná hom en Andrea Iannone (Suzuki) agt sekondes verder terug.

Marc Marquez (Repsol Honda) is die voorloper op die punteleer. Hy is op 70 punte, wat twaalf punte meer is as sy naaste teenstander, Johann Zarco. Zarco spog met 58 punte in die tweede plek met Maverick Vinales (Movistar Yamaha) derde op 50 punte.

In die Moto2-afdeling is Suid-Afrika se Brad Binder tans agtste op die punteleer en Steven Odendaal 25ste. In Moto3 is Darryn Binder 22ste op die punteleer.

Die wegspring op Le Mans is Sondag om 11:00 vir Moto3, 12:20 vir Moto2 en 14:00 vir die groot kanonne in Moto GP.

Klik gerus hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Vir my persoonlik bly dit nog die mees kompeterenste sport op televisie! Van wegspring tot die einde is dit ‘n naelbyt-ervaring……Fantasties!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.