Moto GP: Ducati spog met spoed, Honda werk hard

Marc Marquez tydens ‘n vorige geleentheid. (Foto: marcmarquez93, Twitter)

Die Moto GP van Catalunya (die sewende wedren van 2018) het Sondag in Barcelona plaasgevind. Die wedren is gemaklik deur Jorge Lorenco (Ducati) gewen met Marc Marquez (Repsol Honda) tweede en Valentino Rossi (Movistar Yamaha) derde. Dit was Lorenco se tweede oorwinning in ʼn ry.

Voor die wedren was Marquez (Repsol Honda) met 95 punte die voorloper op die punteleer. Rossi (Movistar Yamaha) was tweede met 72 en Maverick Vinales (Movistar Yamaha) derde met 67.

Verlede jaar op Catalunya was Ducati eerste (Dovizioso) en vierde (Lorenzo) terwyl Honda tweede (Marques) en derde (Pedroza) geëindig het.

Tydens die kwalifisering vir die Catalunya Moto GP het Ducati weer hul man gestaan en die beste gevaar. Die wegspringrooster se eerste plek is ingeneem deur Lorenzo (Ducati). Die voorloper op die punteleer, Marquez (Repsol Honda), was tweede gevolg deur Andrea Dovizioso (Ducati). Vinales was vierde en Andrea Iannone vyfde.

Die baan is 4,655 km lank en spog met nege draaie na regs en sewe na links en die wedren is oor 24 rondes beslis.

Met die wegspring het Marques (Reposol Honda) vir ʼn kort rukkie die voortou geneem maar dit was Lorenco (Ducati) wat hom ná die eerste ronde verbygesteek het. Dovizioso (Ducati) was steeds derde.

Tydens die 16de ronde het Dovizioso vir die tweede keer in drie wedrenne ʼn ongeluk gemaak en sy wedren was iets van die verlede.

By die halfpadmerk was Lorenco (Ducati) en Marquez (Repsol Honda) ver voor die ander renjaers. Rossi (Movistar Yamaha) was derde en Dani Pedrosa (Repsol, Honda) vierde. Cal Crutchlow het tiende weggespring (Honda) en by Pedrosa verbygeskuif tot in die vierde plek.

Daar was verskeie ongelukke en net 13 jaers het die wedren voltooi.

Op die jongste punteleer is Marques (Repsol Honda) steeds voor met 115 punte. Rossi (Movistar Yamaha) is met 88 punte tweede en Vinales (Movistar Yamaha) derde met 77 derde.

In Moto2 was Suid-Afrika se Brad Binder sesde en Steven Odendaal 18de. In Moto3 het Darryn Binder van die baan gegly en nie die wedren voltooi nie.

Die volgende wedren is op 1 Julie in Nederland.

Klik gerus hier vir meer inligting: http://www.motogp.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.