Moto GP: Ducati wen ná 11 jaar in San Marino

Podium (9 September 2018) Foto: MotoGP, Twitter

Die San Marino Moto GP (die 13de van die seisoen) is Sondag in heerlike sonskynweer afgehandel. Die vorige wedren, die Britse Moto GP op Silverstone, moes gekanselleer word as gevolg van reën.

Die wedren wat deur 96 000 toeskouers bygewoon is, is deur Ducati se Andrea Dovizioso (Ducati) gewen (sy derde oorwinning van die seisoen). Dovizioso het die wedren van vroeg af beheer en gemaklik eerste oor die eindstreep gejaag. Jorge Lorenzo (Ducati) het met twee rondes oor geval en die tweede posisie op ʼn skinkbord aan Marc Marquez (Repsol Honda) gegee. Cal Crutchlow (LCR Honda) was derde.

Tydens die kwalifiseringsrondes was die voorloper op die punteleer, Marc Marques, in ʼn ongeluk betrokke en hy moes hard werk om vyfde op die wegspringrooster te wees.
1 Jorge Lorenzo (Ducati) 01:31.629
2 Jack Miller (Alma Pramac) 01:31.916
3 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 01:31.950
4 Andrea Dovizioso (Ducati) 01:32.003
5 Marc Marquez (Repsol Honda) 01:32.016
6 Cal Crutchlow (LCR Honda) 01:32.025
7 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 01:32.028

Die baan in Misano, Italië is in 1972 geopen en is 4,226 meter lank. Alhoewel die baan self in Italië geleë is, word daar na dié wedren as die San Marino Moto GP verwys, omdat daar reeds ‘n Italiaanse Moto GP is en die baan in Misano baie naby aan San Marino geleë is.

Die wedren is oor 27 rondes beslis. Met die wegtrek het Ducati uitstekend gevaar en hulle was ná vier draaie in die eerste drie plekke met Marques vierde. In draai 14 van die tweede ronde het Marques opgeskuif na die derde plek.

Jorge Lorenzo (Foto: MotoGP, Twitter)

Lorenzo (Ducati), Dovizioso (Ducati) en Marquez (Repsol Honda) het gou ʼn gaping oopgemaak bo die res van die veld en hulself bewys in ʼn klas van hul eie. Dovizioso het by Lorenzo verbygeskuif en met 14 rondes oor het Marques die tweede plek ingeneem. Lorenzo het egter met agt rondes oor weer die tweede posisie ingeneem maar met twee rondes oor het hy van die baan gegly en aan Marques die tweede plek gegee.

Uiteindelik het die dag aan Ducati behoort met hul eerste oorwinning in elf jaar tydens San Marino.

Op die Moto GP-punteleer loop Marc Marques nou met 67 punte voor.
1 Marc Marquez (Repsol Honda) 221
2 Andrea Dovizioso (Ducati) 154
3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 151
4 Jorge Lorenzo (Ducati) 130
5 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 124

In die Moto2-afdeling het Suid-Afrika se Brad Binder agtste geëindig en Steven Odendaal was 17de.
In Moto3 het Darryn Binder agtste oor die eindstreep gejaag.

Die volgende wedren is die Moto GP van Aragon wat op 23 September afgehandel word.

Meer inligting is hier beskikbaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elsa ·

Well done, Andrea. Jammer van Lorenzo. Om te dink hy en Mark is volgende jaar stalmaats.. Gaan interesant wees.

Hein Gerber ·

Die baan is nie in San Marino nie. Misano is in Italië.

Daan Erasmus ·

Daar het Suid Afrikaners in beide die Moto 2 en Moto 3 deelgeneem.
Ek sou dink dit sou van belang wees. Dit maak my in elk geval trots.

Jacques ·

Baan is 4.226 meter lank en strek oor 27 rondes.??? Wedren is seker vinnig verby gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.