Moto GP: Groot drama in Spanje

Marc Marquez tydens die Moto GP in Spanje (Foto: marcmarquez93, Twitter)

Die vierde Moto GP van die seisoen is Sondag in Spanje afgehandel. Die wedren is op die Jerez-baan deur die verdedigende wêreldkampioen, Marc Marques gewen. Dit was die 25-jarige Marques se 105de keer wat hy in 172 wedrenne op die wennerspodium was.

Sy spanmaat Dani Pedrosa was egter in ʼn groot ongeluk betrokke wat die uitslag van die wedren ernstig beïnvloed het toe beide Ducatis geëlimineer is. Die twee ander renjaers op die podium was Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) en Andrea Iannone (Suzuki).

Cal Crutchlow (Honda) was eerste op die wegspringrooster gevolg deur (2) Dani Pedrosa (Repsol Honda), (3) Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3), (4) Jorge Lorenzo (Ducati) en (5) Marc Marquez (Repsol Honda).

Met die wegspring het Crutchlow teruggesak na die vierde plek terwyl Jorge Lorenzo (Ducati) die voortou geneem het. Die wedren is oor 25 rondes beslis en ná slegs twee rondes was Marques reeds tweede. Hy het in die eerste plek ingeskuif ná sewe rondes en nooit weer teruggekyk nie.

Foto: @motogp, Twitter

In die agttiende ronde was Marques gemaklik voor met Jorge Lorenzo (Ducati) tweede, Andrea Dovizioso (Ducati) derde en Dani Pedrosa vierde. Pedrosa het egter in ʼn draai van agter teen die twee Ducati-motorfietse vasgejaag en al drie jaers se wedren was iets van die verlede.

Uiteindelik was Marques gemaklik eerste gevolg deur Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) vyf sekondes na hom en Andrea Iannone (Suzuki) agt sekondes verder terug.

Op die punteleer is Marc Marquez (Repsol Honda) die nuwe voorloper. Hy is nou op 70 punte wat twaalf punte meer is as sy naaste teenstander, Johann Zarco. Zarco het 58 punte en Maverick Vinales is derde met 50 punte.

In die Moto2 wedren was Suid-Afrika se Brad Binder sesde terwyl Steven Odendaal nie die wedren kon voltooi nie. In Moto3 het Darryn Binder 27ste oor die eindstreep gejaag.

Die volgende wedren word op 20 Mei in Frankryk gejaag.

Klik hier vir meer inligting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jurg ·

Ek dink nie dat u weergawe van die Petrosa ongeluk korrek is nie. Hy het nie van agter af in die twee Ducatis vagejaag nie. Dalk moet u net weer die voorval bekyk.

Gertryda ·

Ja beslis ek stem saam. Bietjie anders gebeur as wat geskrywe is

Fritz ·

Ek stem saam met Jurg. Kyk weer, wat julle beskryf is beslis nie die ware weergawe van wat gebeur het nie.

Koos1 ·

Baie waar. Hy is afgesny in die draai en die Ducati is in hom vas. Hy is die lug in en die Ducatis is in mekaar vas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.