Moto GP: Marquez en ʼn Suid-Afrikaner seëvier in Spanje

Marc Marquez op ‘n voprige geleentheid. Foto: AP Photo/David Vincent

Die Moto GP van Aragon (die 14de van die seisoen) is Sondag (23 September) op die baan van MotorLand Aragón in Spanje afgehandel. Die Moto GP is deur Marc Marquez gewen met Andrea Dovizioso (Ducati) tweede, Andrea Iannone (Suzuki Eckstar) derde en Alex Rins (Suzuki Eckstar) vierde.

In Moto2 het Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) met die louere weggestap.

Tydens Saterdag se kwalifisering het Jorge Lorenzo (Ducati) ʼn driekuns behaal deur vir die derde wedren in ʼn ry die eerste wegspringposisie in te palm. Sy spanmaat, Andrea Dovizioso (Ducati), was tweede en die voorloper op die punteleer, Marc Marquez (Repsol Honda), derde.

Wegspringrooster

1 Jorge Lorenzo (Ducati) 1’46.881

2 Andrea Dovizioso (Ducati) 1’46.895

3 Marc Marquez (Repsol Honda) 1’46.960

4 Cal Crutchlow (Honda) 1’47.146

5 Andrea Iannone (Suzuki) 1’47.169

Die begin van die wedren was dramaties toe die gunsteling om die wedren oor 23 rondes te wen, Jorge Lorenzo (Ducati), in die eerste draai gegly het en hy hard met moeder aarde kennis gemaak het. Sy spanmaat, Andrea Dovizioso (Ducati), het die voortou geneem met Marc Marquez (Repsol Honda) tweede, Alex Rins (Suzuki Eckstar) derde en Andrea Iannone (Suzuki Eckstar) vierde.

Met 10 rondes oor het Marc Marquez (Repsol Honda) die voortou geneem. Andrea Dovizioso (Ducati) was tweede, gevolg deur Andrea Iannone (Suzuki Eckstar) en Alex Rins (Suzuki Eckstar).  Dovizioso het egter twee rondes later weer die voortou teruggeneem en vir die laaste paar rondes het die voortou gereeld verander.

Dit was egter Marquez (Repsol Honda) wat uiteindelik eerste oor die wenstreep gejaag het. Andrea Dovizioso (Ducati) was tweede, gevolg deur Andrea Iannone (Suzuki Eckstar) derde en Alex Rins (Suzuki Eckstar) vierde.

Op die Moto GPpunteleer loop Marc Marques nou met 72 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 246

2 Andrea Dovizioso (Ducati) 174

3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 159

4 Jorge Lorenzo (Ducati) 130

5 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 130

In die Moto2-afdeling het Suid-Afrika se Brad Binder eerste oor die eindstreep gejaag en Steven Odendaal was agttiende.

In Moto3 het Suid-Afrika se Darryn Binder ook agttiende geëindig.

Die volgende wedren is die Moto GP van Thailand wat op 7 Oktober afgehandel word.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.motogp.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ellisras ·

Brad Binder het letterlik die rook uit die manne uit gejaag. En daar is uiters streng kompetisie. Hy is tans 3 de op die punteleer. As hy onder die top 3 kan eindig sy kanse soveel beter om vir Moto GP oorweeg te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.