Moto GP: Renjaers se oë op Marquez

Marc Marquez. Foto: AP Photo/David Vincent

Die Moto GP van Catalunya (7de wedren van 2018) word Sondag in Barcelona gejaag en al die renjaers is daarop gefokus om Marc Marquez se voorsprong te verklein.

Marquez is 23 punte voor Valentine Rossi wat spog met 72 punte. Dit is egter merkwaardig dat die volgende vyf posisies deur net sewe punte geskei word. 

Punteleer: 

1 Marc Marquez – Repsol Honda 95
2 Valentino Rossi – Movistar Yamaha 72
3 Maverick Vinales – Movistar Yamaha 67
4 Andrea Dovizioso – Ducati Team 66
5 Johann Zarco – Monster Yamaha 64
6 Danilo Petrucci – Alma Pramac Racing 63
7 Andrea Iannone – Team Suzuki Ecstar 60

Die vorige wedren in Spanje was vroeg in Mei op die Jerez-baan afgehandel. Die wedren was deur die verdedigende wêreldkampioen, Marquez, gewen. Sy spanmaat, Dani Pedrosa, was in ʼn ongeluk betrokke wat ook beide Ducati’s geëlimineer het. Die twee ander renjaers op die podium was Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) en Andrea Iannone (Suzuki).

Sedert bogenoemde ongeluk het Ducati sy stem begin dik maak. In die sesde Moto GP van die seisoen in Italië het 90 000 toeskouers gesien hoe Ducati se Jorge Lorenzo en sy spanmaat, Andrea Dovizioso, die wedren oorheers en eerste en tweede eindig. Marquez was sestiende en kon geen punte verdien nie.

Nou lê Catalunya Sondag voor. Die baan is 4,655 km lank en spog met nege draaie na regs en sewe na links. Die baan is 12 m wyd en die langste pylvak is 1,047 km. Verlede jaar op Catalunya was Ducati eerste (Dovizioso) en vierde (Lorenzo) terwyl Honda tweede (Marquez) en derde (Pedroza) geëindig het.

In Moto2 is Suid-Afrika se Brad Binder tans agtste op die punteleer en Steven Odendaal is 26ste. In Moto3 is Darryn Binder 21ste op die punteleer.

Die oefenrondes begin Vrydag terwyl die kwalifisering Saterdag afgehandel sal word. Die wedrenne begin Sondag om 11:00 vir Moto3, 12:20 vir Moto2 en 14:00 vir MotoGP.

Klik gerus hier vir meer inligting,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.