Moto GP: Twee Ducati-renjaers op wennerspodium

Jorge Lorenzo van die Ducati-span vier sy oorwinning nadat hy die Moto GP-wedren by die Red Bull Ring in Spielberg, Oostenryk gewen het (12 Augustus 2018). Foto: Kerstin Joensson/AP

Die Oostenrykse Moto GP is Sondag op die Red Bull Ring in Spielberg gejaag en Ducati het eerste en derde oor die wenstreep gejaag.

Dit was die elfde wedren van 19 in die 2018-seisoen. Dit was ʼn titaniese stryd wat net-net deur Jorge Lorenco (Ducati) gewen is.

Verlede naweek het Ducati eerste en tweede in die Tsjeggiese Moto GP geëindig en Sondag in Oostenryk was Jorge Lorenzo (Ducati) eerste met Andrea Dovizioso (Ducati) derde. Die voorloper op die punteleer, Marc Marquez (Repsol Honda), het tweede oor die eindstreep gejaag. Hy was net 0.13 van ʼn sekonde agter Lorenzo. Cal Crutchlow (Honda) was vierde en nog ʼn Ducati, dié van Danilo Petrucci, vyfde.

Die drie jaers wat op die podium geëindig het, het Saterdag ook die kwalifisering oorheers en was in die voorste ry op die wegspringrooster.

Marc Marquez (Repsol Honda) tydens ʼn opwarmingsessie voor die Moto GP-wedren by die Red Bull Ring in Spielberg, Oostenryk (12 Augustus 2018). Foto: Kerstin Joensson/AP

Op die jongste punteleer het Marc Marquez (Repsol Honda) sy voorsprong na 59 punte gerek.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 201
2 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 142
3 Jorge Lorenzo (Ducati) 130
4 Andrea Dovizioso (Ducati) 129
5 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 113

In die Moto2-afdeling het Suid-Afrika se Brad Binder sesde geëindig en Steven Odendaal was 18de.

In Moto3 was Darryn Binder in die 19de plek.

Die volgende Moto GP word op 26 Augustus op Silverstone in Brittanje gejaag.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.