MotoGP: Binder eindig negende ná hy sy plek oopveg

Brad Binder. Foto: Instagram

Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) het negende geëindig in Sondag se San Marino MotoGP in Misano, Italië, maar hy het steeds ’n hele paar regmerkies met sy vernuftige jaagwerk verdien.

Die resies, voor 25 000 toeskouers, is deur Francesco Bagnaia (Ducati) gewen. Dit was sy tweede opeenvolgende oorwinning nadat hy verlede week ook die Spaanse Grand Prix in Aragon gewen het.

Fabio Quartararo (Yamaha) was kort op sy hakke en hy het ook sy voorsprong op die wêreldkampioenskaps-puntelys vergroot.

Quartararo het nou 234 punte, gevolg deur Baganaia (186) en Joan Mir (168).

Die groentjie Enea Bastianini (Ducati) het sy eerste podiumplek losgejaag toe hy derde klaargemaak het. Wat sy vertoning merkwaardig maak, is dat sy motorfiets twee jaar oud is.

Marc Marquez (Honda) was vierde, gevolg deur Mir (Suzuki) en Jack Miller (Ducati).

Binder wat 17de weggespring het nadat hy Saterdag tydens kwalifisering geval het, het Sondag gaandeweg sy plek oopgeveg.

Hy is steeds sesde op die puntelys.

* Vroeër het sy jonger broer, Darryn, sesde geëindig in die Moto3-ren.

Dennis Foggia (Honda) het die vierde keer vanjaar gewen met Niccolo Antonelli (KTM) tweede en Andrea Migno (Honda) derde.

Pedro Acosta is steeds die voorloper op die puntelys, maar hy word vinnig deur Foggia ingehaal, wat ook verlede week gewen het.

* Die volgende Grand Prix is op 3 Oktober wanneer die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas, plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Brad word met kwalifisering gekortwiek deur band keuses maar hy maak altyd op in die renne. Blykbaar is die KTM en Michelins nie lekker versoenbaar nie. Hy het in Oostenryk bewys hy het leeuemoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.