MotoGP: Binder tweede; Marquez weer as kampioen gekroon

Suid-Afrika se Brad Binder in aksie op sy KTM. (Argieffoto: MotoGP.com)

Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) het Sondag op die Chang-renbaan in Buriram, Thailand, die gaping tussen hom en die twee voorlopers op vanjaar se kampioenskapspunteleer, Alex Marquez (Kalex) en Augusto Fernandez (Kalex), laat krimp toe hy tweede in die Moto2 van die Thaise Grand Prix geëindig het.

Die wedren is deur die Italianer Luca Marini (Kalex) gewen; sy eerste oorwinning van die seisoen, met Binder tweede en die Spanjaard Iker Lecuno (KTM) derde.

Fernandez en Marquez was onderskeidelik vierde en vyfde.

Daar is nog vier wedrenne oor in vanjaar se reeks en Binder (180) is binne trefafstand van Fernandez (184 punte), wat tweede is.

Marques is nog geriefklik voor (224).

* In die MotoGP het Marc Marquez (Honda) sy oorheersing voortgesit toe hy as 2019 se kampioen gekroon is met nog vier renne oor.

Dit is Marquez se sesde titel nadat hy om die laaste draai die Fransman Fabio Quartararo verbysteek het om naelskraap met 0,171 sekondes te seëvier. Maverick Vinales was derde.

Marquez (325 punte) is so ver voor Andrea Dovizioso (215) en Alex Rins (167) dat hy nie meer ingehaal kan word nie.

Marquez het sy aanslag op vanjaar se kroon as beter beskryf as in 2014 toe hy die eerste tien wedrenne gewen het, omdat dit baie meer mededingend is.

Hy het toe 13 keer gewen, 13 keer eerste weggespring en 362 punte behaal.

Marquez het ná Sondag se sege op en af gespring en hy is skouerhoog deur sy ondersteuners in die lug gegooi en op die hande gedra.

Marquez het nou verby die Australiese legende Mick Doohan as die suksesvolste jaer geskuif, maar hy is steeds ʼn kortkop agter die Italianer Valentino Rossi wat verlede jaar sy sewende wêreldkampioenskap gewen het, asook Giacomo Agostini wat in 1975 sy agtste titel verower het.

* So het die jaers Sondag geëindig: 1. Marc Marquez (Spanje/Honda) 39:36.223, 2. Fabio Quartararo (Frankryk/Yamaha-SRT) +0.171, 3. Maverick Vinales (Spanje/Yamaha) +1.380, 4. Andrea Dovizioso (Italië/Ducati) +11.218, 5. Alex Rins (Spanje/Suzuki) +11.449, 6. Franco Morbidelli (Italië/Yamaha-SRT) +14.466, 7. Joan Mir (Spanje/Suzuki) +18.729, 8. Valentino Rossi (Italië/Yamaha) +19.162, 9. Danilo Petrucci (Italië/Ducati) +23.425, 10. Takaaki Nakagami (Japan/Honda-LCR) + 29.423.

Kampioenskapspuntelys: 1. Marc Marquez (Honda) 325, 2. Andrea Dovizioso (Ducati) 215, 3. Alex Rins (Suzuki) 167, 4. Maverick Vinales (Yamaha) 163, 5. Danilo Petrucci (Ducati) 162, 6. Valentino Rossi (Yamaha) 145, 7. Fabio Quartararo (Yamaha-SRT) 143, 8. Jack Miller (Ducati-Pramac) 119, 9. Cal Crutchlow (Honda-LCR) 102, 10. Franco Morbidelli (Yamaha-SRT) 90.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vraagteken ·

Vinnig, het jy nie die nuus gehoor nie? Binder gaan volgende jaar vir KTM in die MotoGP ry.

Pieter ·

Die tweede gedeelte van berig heel verkeerd.
Marquez nou agt MotoGP wereld titels agter sy naam. Rossi het nege.
Marguez het laas jaar sy sewende titel gewen, nie Rossi nie…

Valerie ·

So stil-stil doen die jong man groot goed. Het ‘n onderhoud met hom gesien…nie pronkperdjie soos ander SA sport spanne nie. Knap gery, Brad.

Uitgevang ·

En in Doha kon SASKOK se atlete nie een medalje wen by die wereldatletiekbyeenkoms nie! Wys hulle hoe, Brad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.