MotoGP: Binder veg weer terug van agter af

Brad Binder. (Foto: Facebook)

Brad Binder van Suid-Afrika gaan hopelik volgende jaar in die MotoGP-wedrenne beter wegspringplekke kry wanneer hy saam met sy boetie, Darryn, gaan jaag.

By vandag se Emilia-Romagna-wedren in Italië het Brad Binder gekwalifiseer om in die 20ste plek weg te spring. Hy het sake vir homself bemoeilik deur op pad na die wegspring te val. Hy moes toe van die kuipelaan af wegspring en boonop ʼn lang ronde ry nadat hy die reëls oor baanlimiete oortree het. Binder het weer gewys wat in hom steek en in die 11de plek oor die eindstreep gejaag. Boetie Darryn was vierde in die Moto3-wedren.

Die Fransman Fabio Quartararo (Yamaha) kon net vierde eindig in die MotoGP-wedren, maar dit was genoeg om vir hom die wêreldkampioenskap te beklink. Francesco Bagnaia (Ducati) was 52 punte agter Quartararo, maar toe hy van die baan af gejaag het met net vier rondes oor was daar geen keer aan die Fransman nie. Hy moes net sorg dat hy by die eindstreep kom. Quartararo het in die 15de plek weggespring en moes ook van agter af inhaal.

Die Spanjaard Marc Márquez (Honda) het die wedren gewen met sy landgenoot Pol Espargaró (Honda) in die tweede plek. Die Italianer Enea Bastianini (Ducati) was derde.

Quartararo is Yamaha se eerste MotoGP-wêreldkampioen sedert Jorge Lorenzo in 2015.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Windhond

Mooi so Brad en Darryn, in Moto GP is al Suid Afrikaanse sport persoonlikhede wat ek nog ondersteun

pieter

so ver ek weet jaag Brad vir KTM volgende jaar.Sy jonger broer wel vir Yamaha