MotoGP: Binder wys weer sy staal ondanks straf  

Foto: Brad Binder/Instagram

Op moedverloor se vlakte? Dié uitdrukking bestaan nie in die woordeskat van Suid-Afrika se Brad Binder nie.

Nadat Binder deur die MotoGP-beamptes met ʼn “lang ronde” gestraf is vir Sondag se Europese Grand Prix in Valencia, Spanje, nadat hy in die vorige wedren die ongeluk veroorsaak het wat tot die einde van sy en die Australiër Jack Miller se aansprake gelei het, het Binder byna geen hoop op ʼn podiumplek gehad nie.

Maar die Krugersdorper wat tiende weggespring het en in die derde ronde ʼn paar sekondes ingeboet het tydens die sogenaamde lang ronde, het sewende geëindig nadat hy ná sy “straf” tot 16de plek afgeskuif het.

Maar hy het hom nie laat onderkry nie en gaandeweg sy plek oopgeveg en die een na die ander jaer verbygesteek. Hy het tydens die wedren ook die vinnigste rondetyd opgestel en al hoe sterker na vore getree om vanjaar as die groentjie-jaer in MotoGP gekroon te word.

Sy grootste teenstander, Alex Marquez, het vir die tweede wedren in ʼn ry geval terwyl hy voor Binder was.

Was dit oor die druk wat Binder op hom geplaas het?

Binder het nou 76 punte en is nege punte voor Marquez (67) op die puntelys met net twee renne oor. Binder is algeheel 12de en Marquez 14de.

Sondag se Grand Prix is deur Joan Mir (Suzuki) gewen, met sy spanmaat, Alex Rins, tweede en Binder se KTM-spanmaat, Pol Espargaro, derde.

Mir, wat drie jaar laas ’n wedren in Moto3 kon wen, het dus die agtste verkillende wenner in vanjaar se MotoGP-reeks geword.

As Mir (162 punte) aanstaande week op die podium eindig, sal hy as kampioen gekroon word, want Fabio Quartararo en Rins (albei 125 punte) is te ver agter hom.

In die Moto3-wedren was die jonger Binder-boetie, Darryn, vyfde. Die ren is deur Raul Fernandez (KTM) gewen met Serigo Garcia (Honda) tweede en Al Ogura (Honda) derde.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Agt verskillende weners. Dis mos hoe sport moet wees. Baie beter as die Formule 1. Hulle dink net 1 mag wen ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.