MotoGP: Brad Binder 10de, broer Darryn val

Brad Binder (Junie 2021) (Foto: Lluis Gene/AFP)

Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) het Sondag in Jerez vyf plekke in die eerste rondte van die Spaanse MotoGP tot 10de posisie opgeskuif, maar dis waar hy enduit gebly het.

Die Grand Prix is deur die Italianer Francesco Bagnaia (Ducati) in 40:00.554 gewen met die huidige wêreldkampioen, Fabio Quartararo (Yamaha) tweede, net 0.285 sekondes agter hom.

Aleix Espargaro (Aprilia) was derde nadat hy verlede week in die Portugese Grand Prix ook derde geëindig het, met Marc Marquez (Honda) vierde, Jack Miller (Ducati) vyfde en Alex Rins (Suzuki) sesde.

Binder, wat in die 15de posisie weggespring het, het tiende geëindig, 20.056 sekondes agter Bagnaia.

Brad se jonger broer, Darryn (Yamaha), wat 25ste weggespring het, het tot die 17de plek opgeskuif, maar hy het in die vyfde rondte geval en sy drome was daarmee heen.

Dit was Bagnaia, wat eerste weggespring het, se derde podiumplek in ses renne vanjaar. Hy was ook vanjaar se vyfde verskillende wenner.

Quartararo (89 punte) is steeds eerste op die puntelys, gevolg deur Espargaro (82) en Enea Bastiagnini (Ducati), wat Sondag agtste geëindig het, met 69 punte.

Brad Binder is met 48 punte in die agtste posisie op die puntelys.

Darryn Binder (6 punte) is 21ste.

* Ducati (131 punte) het volgens crash.com sy voorsprong in die vervaardigersafdeling vergroot en word gevolg deur Yamaha (89), Aprilia (83), Suzuki (80), KTM (76) en Honda (57).

Die volgende ren is die Franse Grand Prix op 15 Mei by Le Mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.