MotoGP: Brad Binder 11de op Silverstone

Brad Binder Sondag in aksie. (Foto: Adrian Dennis / AFP)

Nóg ‘n swak wegspringposisie het Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) Sondag op Silverstone daarvan weerhou om tussen die top10 in die Britse MotoGP te eindig.

Binder, wat in die vyfde ry in die 14de wegspringposisie was, het 11de geëindig.

Die Grand Prix is deur die Italianer Francesco Bagnaia (Ducati) gewen, wat sy vierde oorwinning vanjaar in sewe renne was.

Maverick Viñales (Aprilia) was tweede, gevolg deur Jack Miller (Ducati), Enea Bastianini (Ducati), Jorge Martin (Ducati) en Miguel Oliveira (KTM).

Die huidige wêreldkampioen, Fabio Quartararo (Yamaha) was 8ste en hy het sy voorsprong bo Aleix Espargaro (Aprilia) wat negende geëindig, met 1 punt tot 22 punte vergroot.

Quartararo het nou 180 punte, gevolg deur Espargaro (158) en Bagnaia, wat sy tweede Britse MotoGPgewen het, derde met 131 punte.

Binder (98 punte) is deur Miller (101) ingehaal. Miller is nou sesde en Binder sewende.

Binder, wat gewoonlik baie goed wegspring, kon dit nie Sondag regkry nie. Hy het wel tot 10de posisie opgeskuif nadat Johann Zarco, wat in die voorste wegspringposisie was, in sy 96ste ren geval en nie die Grand Prix kon voltooi nie. Só ook Joan Mir wat met ses rondtes oor, ook geval het.

Brad Binder se jonger broer, Darryn (Yamaha) het 20ste geëindig.

Daar is nog agt renne in vanjaar se reeks oor en Quartararo is glad nie daarvan seker om sy titel met welslae te verdedig nie, want Espargaro en Bagnaia blaas in sy nek.

Die volgende ren is die Oostenrykse MotoGP wat op 21 Augustus op die Red Bulll Ring in Spielberg plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.