MotoGP: Brad Binder ken nie van tou opgooi

Brad Binder (Maart 2024) (Foto: Red Bull KTM/X)

Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) glo nie aan middelmatigheid nie.

Nadat hy Vrydag drie keer tydens die eerste kwalifisering vir die Franse MotoGP op Le Mans geval het en in die laaste wegspringposisie in die agterste ry was, het hy geensins boedel oorgegee nie.

Hy het deur die teleurstelling geveg en Saterdag se kort blitsren 16de geëindig. Hy het Sondag daarop verbeter toe hy agtste in die Franse MotoGP geëindig het.

Soos gewoonlik het hy baie lof by die wedrenkommentators vir sy jaagvernuf gekry. Hy het ook aan sy sewende posisie op die kampioenskapspuntelys geklou nadat hy punteloos in die blitsren was.

Hy was Sondag weer blitsig by die wegspring en van 22ste af tot 15de opgeskuif.

Nadat Pedro Acosta (GASGAS) in die derde ronde en Marco Bezzecchi (VR46 Ducati) in die vyfde ronde voor hom geval het, het hy ook ’n hele paar ander jaers, insluitende sy onderpresterende spanmaat, Jack Miller, verbygesteek om van 13de af tot in die agtste posisie op te skuif.

Sondag se MotoGP is deur die Spanjaard Jorge Martin (Pramac Ducati) gewen, met Marc Marquez (Gresini Ducati) kort op sy hakke.

Die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenocvo) was derde nadat hy die voortou voor die eerste draai ná die wegspring geneem het.

Hy het lank voorgejaag en is eers in die 21ste van 27 rondes deur Martin verbygesteek.

Hy is in die laaste ronde se tiende draai deur Marquez verbygesteek en het derde geëindig.

Marquez, wat in die 13de wegspringposisie was, het net soos Binder blitsig weggespring en vyf plekke in die eerste ronde opgeskuif.

Marquez, ’n sesmalige wêreldkampioen, het algaande sy posisie verbeter en tot in die laaste ronde gewag voordat hy tot tweede opgeskuif het met Bagnaia kort op sy hakke.

Hy het 931 dae laas ʼn MotoGP gewen en so byna nog ʼn hoofstuk by sy sprokiesverhaal gevoeg.

Enea Bastianini (Ducati Lenovo) was vierde, Maverick Viñales (Aprilia Factory) vyfde, Fabio Di Giannantonio (VR46 Ducati) sesde, Franco Morbidelli (Pramac Ducati) sewende en Binder agtste.

Martin (129 punte), wat ook Saterdag se blitsren gewen het vir dubbele Franse triomf, het sy voorsprong tot 38 punte bo Bagnaia (91 punte) op die puntelys vergroot.

Enea Bastianini (Ducati Lenovo) is derde met 89 punte, gevolg deur Marquez (ook 89), Viñales (81), Acosta (73) en dan Binder (67).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.