MotoGP: Brad sukkel in die reën en koue

Brad Binder. Foto: Instagram

Dit was beslis nie ʼn goeie naweek vir die Binder-broers van Krugersdorp nie.

Ja, die reëntjie wat uitgesak het, was baie welkom, maar ʼn paar duisend kilometer verder het die reën die kanse van dié twee Suid-Afrikaanse motorfietsjaers beduiwel.

Ná die opwinding van twee weke gelede toe jonger boetie Darryn sy eerste Moto3-oorwinning in die Katalaanse Grand Prix behaal het, het ouboet Brad Binder (KTM) Sondag op ʼn reëndeurdrenkte Bugatti-baan by Le Mans 12de geëindig in die Franse MotoGP. Dít nadat Darryn nie die Moto3-ren kon voltooi nie nadat hy sewe rondtes voor die einde geval het.

Die MotoGP is deur Danilo Petrucci (Ducati) van Italië gewen met Alex Marquez (Honda) tweede en Binder se KTM-spanmaat, Pol Espargaro, derde.

Dit was Petrucci se tweede oorwinning in 146 renne en hy is vanjaar se sewende wenner in nege renne.

Dit was ook die eerste keer dat Honda vanjaar ʼn podiumplek beklink het nadat daar dié seisoen reeds 15 verskillende jaers op die podium gestaan het.

Brad Binder het reeds in Vrydag en Saterdag se oefensessies in die reën en koue gesukkel. Hy het ook Saterdag geval, wat beteken het dat hy 18de weggespring het.

Verskeie van die voorste aanspraakmakers, soos Valentino Rossi, Cal Crutchlow, Bradley Smith, Tito Rabat en Jack Miller, kon nie die ren voltooi nie.

Dit het die deur vir Binder-hulle oopgelaat om op te skuif.

Fabio Quartararo is steeds die voorloper op die kampioenskapspunteleer met 115 punte, gevolg deur Joan Mir (105) en Andrea Dovisiozo (97).

Espargaro (73) is agtste en Binder (62) 11de, met vyf renne oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Die twee wil net vir die wereld wys “Neem kennis van ons, ons is hier” watch this space

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.