MotoGP: Ducati wil momentum behou

Marc Marquez. Foto: Hendrik Schmidt/dpa via AP

Die aandag verskuif dié week na die San Marino MotoGP (die 13de van die seisoen) wat Sondag gejaag word. Die vorige wedren, die Britse MotoGP op Silverstone, moes gekanselleer word as gevolg van reën.

Tydens die Oostenrykse MotoGP wat ʼn paar weke gelede op die Red Bull Ring in Spielberg afgehandel is, het Ducati eerste en derde oor die wenstreep gejaag. Dit was ʼn titaniese stryd wat net-net deur Jorge Lorenco (Ducati) gewen is. Die voorloper op die punteleer, Marc Marques (Repsol Honda), het 2de oor die eindstreep gejaag. Hy was net 0.130 van ʼn sekonde agter Lorenzo. Cal Crutchlow (Honda) was vierde en nóg ʼn Ducati, dié van Danilo Petrucci, vyfde.

Die baan in San Marino is in 1972 gebou en is 4,226 meter lank. Die langste pylvak is 530 m lank met 6 draaie links en 10 na regs. Die baanrekord staan agter die naam van Jorge Lorenzo (SPA) op sy Yamaha en die tyd was 1.31.868 sekondes. Die gemiddelde spoed tydens dié ronde in 2016 was 165,6 km/h. Lorenzo het ook drie jaar in ʼn ry die voorste wegspringposisie beklee. Dit was van 2014 tot en met 2016.

Op die MotoGPpunteleer loop Marc Marques tans met 59 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 201

2 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 142

3 Jorge Lorenzo (Ducati) 130

4 Andrea Dovizioso (Ducati) 129

5 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 113

In die Moto2-afdeling is Suid-Afrika se Brad Binder tans vierde op die punteleer en Steven Odendaal is 28ste.

1 Francesco Bagnaia 189

2 Miguel Oliveira 186

3 Alex Marques 113

4 Brad Binder 111

In Moto3 beklee Darryn Binder die 22ste plek.

Die begintyd van die Moto3-wedren is Sondag om 11:00. Die Moto2-wedren sal om 12:20 wegtrek en die MotoGP begin om 14:00.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.