MotoGP: Hartseer dag vir Krugersdorp se Binder-gesin

Argieffoto van Brad Binder (9 Augustus 2020) (Foto: AP Photo/Petr David Josek)

Die skaapboud het Sondagmiddag sekerlik maar bra smaakloos geproe in die Binder-huishouding in Krugersdorp nadat nie een van die twee seuns, Brad en Darryn, hond haaraf kon maak in die Emilia Romagna-motorfietswedrenne in Misano, Italië, nie.

Darryn se aanslag in Moto3 het ná vyf rondtes tot ʼn einde gekom en Brad, van wie soveel verwag is nadat hy Vrydag en Saterdag baie goeie oefentye opgestel het, se aanslag is reeds in die tweede rondte van die MotoGP tot stilstand gedwing nadat hy geval het.

Brad, wat sesde weggespring het, het tot vierde opgeskuif, maar sy fiets het onder hom uitgegly en hy kon nie die wedren voltooi nie.

Die wedren is deur Maverick Viñales (Yamaha) gewen, met Joan Mir (Suzuki) tweede en Fabio Quatararo (Yamaha) derde.

Brad se KTM-span, Pol Espargaro, is egter tot derde bevorder nadat Quartararo met ʼn paar sekondes gestraf is.

Hy was briesend daaroor en het die kuipe binnegestorm.

Brad Binder, wat later die wedren sonder enige besering of ongemak vanuit die kuipe dopgehou het, is steeds 11de op die kampioenskapspuntelys.

Hy is sekerlik baie teleurgesteld, maar hy hoef geensins in sak en as te wees nie, want van die hardebaarde van MotoGP, soos Valentino Rossi, Tito Rabat, Iker Lecuona  en die talentvolle Francesco Bagnaia, wat gerieflik voor was, het ook geval.

MotoGP is baie onvoorspelbaar en byna enige van die 15 top-jaers kan op enige dag ʼn podiumplek losjaag.

As voorbeeld was Viñales die sesde jaer wat tot dusver een van vanjaar se agt renne kon wen, insluitende Binder in die Tsjeggiese Republiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Weereens onvoorspelbare en naelbyt-wedrenne…..en ongelukkig vir die Binder-broers……maar nouja dit is deel van enige sport. Hou duim vas vir komende renne in Spanje

Pieterbusa ·

Net om deel te wees van die MotoGP is reeds ‘n oorwinning. Die Binder broers maak ons trots. Wel gedaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.