MotoGP: Hoë berge en vinnige versnelling wag

Valentino Rossi van die Movistar Yamaha MotoGP by die MotoGP-ren in die Tjeggiese Republiek (5 Augustus 2018). Foto: Petr David Josek/AP

Die Oostenrykse MotoGP word komende Sondag op die Red Bull Ring in Spielberg gejaag.

Dit sal die elfde wedren van die seisoen wees. Daar is 19 wedrenne in vanjaar se reeks geskeduleer met die laaste wedren wat op 18 November in Spanje afgehandel sal word.

Verlede naweek het Ducati eerste en tweede in die Tsjeggiese MotoGP geëindig. Die wedren is deur Andrea Dovizioso (Ducati) gewen met sy spanmaat Jorge Lorenzo tweede. Die voorloper op die punteleer, Marc Marques (Repsol Honda) het 3de oor die eindstreep gejaag.

Die groot vraag is of Ducati weer met die ander spanne kan afreken wat sake beslis interessant sal maak vir die res van die seisoen. Dit sal ook verhoed dat die 25-jarige Marques op ʼn drafstap sy vyfde wêreldtitel bekom.

Marc Marques (Repsol Honda) het sy voorsprong tydens die Tsjeggiese MotoGP van 46 na 49 punte gerek.

1 Marc Marques (Repsol Honda) 181
2 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 132
3 Andrea Dovizioso (Ducati) 113
4 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 109
5 Jorge Lorenzo (Ducati) 105
Johann Zarco (Monster Yamaha Tech3) 97

Hierdie week in Spielberg is die twee fokuspunte, hoogte bo seespieël en versnelling. Ducati is tans “die konings van die berge” nadat hulle in 2016 en 2017 sake in Oostenryk oorheers het. Die baan is 4,31 km lank.

Indien die jaers weer soos verlede week op mekaar se hakke oor die wenstreep jaag, gaan die toeskouers weer getrakteer word op ʼn kat-en-muis-speletjie soos min.

In die Moto2-afdeling is Suid-Afrika se Brad Binder algeheel 5de op die punteleer. Brad is net 12 punte agter Alex Marques wat in die derde posisie is.

In Moto3 is Darryn Binder in die 22ste posisie met 20 punte.

Die eerste oefenrondtes word Vrydag gejaag terwyl die kwalifisering Saterdag afgehandel word.

Die Moto3-jaers trek Sondag om 11:00 weg. Die Moto2-wedren begin om 12:20 en die MotoGP-ren om 14:00.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.