MotoGP: Jonger broer Darryn daag Brad Binder uit

Darryn Binder in aksie (Februarie 2022) (Foto: Ahmad Fadali/AFP)

Die Suid-Afrikaner Brad Binder (Red Bull KTM) het Sondag in Indonesië behoorlik klippe gekou. Maar hy kan sy kop hoog lig ná twee Grand Prix-renne in vanjaar se MotoGP-reeks, want hy is in die tweede plek op die wêreldkampioenskapspunteleer ná ʼn dramatiese Grand Prix op ʼn sopnat baan.

Dit was geensins maklik nie, want hy moes op die Mandalika-straatbaan eers die nat en glibberige toestande te bowe kom en bowenal ʼn hewige tweestryd met sy jonger boetie Darryn Binder (Yamaha) afweer.

Die Grand Prix is deur die Portugese jaer Miguel Oliveira (KTM) gewen met die huidige wêreldkampioen Fabio Quartararo (Yamaha) tweede en Johann Zarco (Ducati) derde. Hulle is gevolg deur Jack Miller (Ducati), Alex Rins (Suzuki) en Joann Mir (Suzuki) sesde.

Brad Binder, wat vierde weggespring het, het agtste geëindig het nadat ʼn hewige reënbui die wegspring met 75 minute vertraag het.

Darren Binder het in slegs sy tweede MotoGP op die nat baan gedy en selfs in die 14de rondte vir broer Brad verbygesteek. Hy het in sy groentjie-jaer in MotoGP tiende geëindig en baie groot indruk in die nat toestande gemaak.

Die Grand Prix, wat ná 8 940 dae (25 jaar) weer in Indonesië plaasgevind het, het al die bestanddele van ʼn riller gehad.

Reeds in Sondag in die finale opwarmingsessie was Marc Marquez in ʼn ernstige ongeluk betrokke (teen 180 km/h) toe hy geval en hoog oor sy motorfiets getuimel het. Hy het op sy linkerarm te lande gekom en is hospitaal toe geneem waar hy vir sy beserings behandel is en ook harsingskudding opgedoen het.

Brad Binder, ná sy tweede plek in die eerste Grand Prix in Katar, het nou 28 punte en is net twee punte agter Enea Bastianini (30) met Qartararo (27) derde.

Darryn Binder het ses punte met sy tiende posisie verdien en is 13de.

Die volgende ren is die Argentynse Grand Prix op 3 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.