MotoGP: Marquez kan sake nou rustig vat

Spanje se Marc Marquez vier sy oorwinning met sjampanje tydens die toekenningsgeleentheid van die Japanse MotoGP by die Motegi Twin Ring-baan, noord van Tokyo in Japan (21 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

Die nuut gekroonde 2018-Wêreldkampioen, Marc Marquez (Repsol Honda), kan die oorblywende drie wedrenne geniet en kyk hoe die ander jaers sake uitspook om die tweede plek op die punteleer. Dit was reeds Marquez se vyfde wêreldtitel in ses jaar en hy kan nou fokus op aanstaande jaar en die voorbereidings vir die 2019-seisoen.

Die afgelope naweek het Marquez die Japannese MotoGP op die Motegi Twin Ring-baan in Japan gemaklik gewen nadat sy grootste teenstander, Andrea Dovizioso (Ducati), met twee rondes oor, van die baan af gegly het. Dit was Marques se agtste oorwinning van die seisoen. Cal Crutchlow (Honda) was tweede en Alex Rins (Suzuki) derde.

Die eerste helfte van die seisoen was deur Marquez oorheers waarna Ducati so ietwat probeer terugveg het. Die oorweldigende wyse waarop Honda se Marquez egter voor is op die punteleer, voorspel niks goed vir die ander spanne in die nabye toekoms nie.

Op die jongste punteleer is Marquez nou met 102 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 296

2 Andrea Dovizioso (Ducati) 194

3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 185

4 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 155

Nou lê Sondag se Australiese MotoGP (die derde laaste van die seisoen) om 07:00 Suid-Afrikaanse tyd op die Phillip-eiland in Australië voor. Ducati was verlede naweek eerste en derde op die wegspringrooster alhoewel dit aan die einde van die wedren nie veel beteken het nie.

Die Australiese MotoGP word jaarliks sedert 1997 op die Phillip-eiland-baan aangebied. Die eiland is 140 km suidoos van Melbourne geleë, maar word met ʼn brug aan Australië verbind. Die baan is 4,4 km lank en sy langste pylvak is 900 m. Daar is 7 draaie na links en 5 na regs. Die hoofwedren sal oor 27 rondes beslis word.

In Moto2 is Suid-Afrika se Brad Binder tans derde op die punteleer.

1 Francesco Bagnaia (Kalex) 279

2 Miguel Oliveira (KTM) 244

3 Brad Binder (KTM) 167

4 Lorenzo Baldassarri (Kalex) 148

Die oefenrondes begin Vrydag en die kwalifisering sal Saterdag afgehandel word. Die Moto3-jaers trek Sondag om 04:00 weg, Moto2 om 05:20 en die MotoGP sal om 07:00 begin.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.