MotoGP: Marquez nou die een om dop te hou

Spanje se Marc Marquez vier sy oorwinning met sjampanje tydens die toekenningsgeleentheid van die Japanse MotoGP by die Motegi Twin Ring-baan, noord van Tokyo in Japan (21 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi

Indien die nuwe wêreldkampioen, Marc Marquez (Repsol Honda), se wedren nie deur die toedoen van ander renjaers kortgeknip gaan word nie, gaan hy moeilik tydens die laaste twee wedrenne daarvan weerhou word om weer te wen. Daar bly nou net twee wedrenne oor in die MotoGP-reeks van 2018.

Komende naweek (Sondag 4 November) verskuif die aandag na Maleisië vir die tweede laaste wedren van die jaar.

Marquez is op die oomblik strate beter as die res van die deelnemers. Verlede naweek (in Australië) het hy tydens die kwalifisering wéér die eerste plek op die wegspringrooster ingeneem. Marquez was goed geplaas in die wedren, maar moes ná vyf rondes die handdoek ingooi nadat Johann Zarco (Monster Yamaha) teen sy motorfiets gebots het.

Die uiteindelike wenner in Australië was Maverick Vinales (Movistar Yamaha) met Andrea Iannone (Suzuki) tweede en Andrea Dovizioso (Ducati) derde.

Op die jongste punteleer loop Marquez met 86 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 296
2 Andrea Dovizioso (Ducati) 210
3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 195
4 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 180

In die vervaardigers-afdeling loop Repsol Honda met ʼn kortkop voor en kan sake nog interessant word.

1 Repsol Honda 391
2 Movistar Yamaha 375
3 Ducati Team 354
4 Span Suzuki Ecstar 262
5 Alma Pramac Racing 220

Die Sepang-baan, naby Kuala Lumpur, is in 1999 gebou en is 5,543 km lank. Die baan het 10 draaie na regs en net 5 na links. Die langste pylvak is 920 meter lank.

In Moto2 het Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) verlede week in Australië eerste oor die eindstreep gejaag. Brad is tans derde op die punteleer.

Die oefenrondes begin Vrydag terwyl die kwalifisering Saterdag afgehandel word.

Sondag begin die Moto2-wedren om 04:00, Moto3 om 05:20 en die MotoGP om 07:00.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.motogp.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.