MotoGP: Marquez slaan die kitaar

Marc Marquez. Foto: Hendrik Schmidt/dpa via AP

Met die somervakansie van twee weke vir die Moto GP-reeks agter die blad, is die jaers uitgerus en weer gereed vir aksie. Die 10de wedren van die seisoen word Sondag in Brno in die Tsjeggiese Republiek gejaag.

Die groot vraag op almal se lippe is of daar enige jaer is wat die oorheersing van Marc Marquez (Repsol Honda) kan elimineer. Marquez het die laaste twee wedrenne gewen en loop met ʼn allemintige 46 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 165

2 Valentino Rossi (Movistar Yamaha)119

3 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 109

4 Andrea Dovizioso (Ducati) 88

5 Johann Zarco (Monster Yamaha Tech 3) 88

6 Jorge Lorenzo (Ducati) 85

Marc Marquez tydens ‘n oefensessie. Foto: Jan Woitas/dpa via AP

Die 25-jarige Marquez sal die naweek in Brno aan sy 100ste MotoGP-ren deelneem. Marquez se loopbaan het in 2013 begin en hy het reeds 40 oorwinnings behaal en is die jongste jaer nog wat met vier wêreldtitels kan spog.

Die Masaryk-baan in Brno is bekend daarvoor dat hy met die bande se gal werk. Daar is 14 draaie (8 na regs en 6 na links) waarvan 9 skerper is as 90 grade. Die draaie na regs is vinniger as dié na die linkerkant. Die baan is 5,403 km lank en met die groot klomp draaie is daar verskeie sones waar daar hard gerem en dan weer versnel moet word. Die langste pylvak is 636 m lank.

In die Moto2-afdeling is Suid-Afrika se Brad Binder ná sy oorwinning in Duitsland nou algeheel 6de met 91 punte. Die voorloper is Francesco Bagnaia met 148 punte.

In Moto3 is Darryn Binder in die 22ste posisie met 20 punte. Die eerste oefenrondes word Vrydag gejaag terwyl die kwalifisering Saterdag sal plaasvind. Die Moto3-wedren word Sondag om 11:00 gejaag, die Moto2-ren begin om 12:20 en die groot kanonne in Moto GP sal om 14:00 wegtrek. Die hoofwedren oor 21 rondtes sal sowat 42 minute duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.