MotoGP: Marquez uit; Binder wen in Aus

Suid-Afrika se Brad Binder vier sy oorwinning in die Moto2-wedren. Foto: AP Photo/Andy Brownbill

Die nuut gekroonde 2018 Wêreldkampioen, Marc Marquez (Repsol Honda), het eerste weggespring in Sondag se Australiese Moto GP, maar moes na vyf rondes die handdoek ingooi nadat Johann Zarco (Monster Yamaha) kontak met sy motorfiets gemaak het.

Die wedren is deur Maverick Vinales (Movistar Yamaha) gewen met Andrea Iannone (Suzuki) tweede en Andrea Dovizioso (Ducati) derde. Die wedren oor 27 rondes is op die Phillip Eiland-baan, 140 km suidoos van Melbourne, afgelê.

Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) het die Moto2-wedren gewen.

Verlede naweek in Japan het Marquez sy agtste oorwinning van die seisoen behaal maar in Australië kon die nuwe kampioen nie die wedren voltooi nie.

Tydens die kwalifisering het Marquez sy dominansie van die seisoen uitgespel en die eerste plek op die wedspringrooster verower. Die groot teleurstelling was Ducati wat net sesde vinnigste kon kwalifiseer.

1 Marc Marquez (Repsol Honda)
2 Maverick Vinales (Movistar Yamaha)
3 Johann Zarco (Monster Yamaha)
4 Andrea Iannone (Suzuki)
5 Alex Rins (Suzuki )
6 Jack Miller (Ducati)

Marc Marquez. Foto: Hendrik Schmidt/dpa via AP

Met die wegtrek was daar ʼn groot skommeling wat posisies betref en na die eerste ronde was Marquez (Repsol Honda) voor met Andrea Dovizioso (Ducati) tweede. Johann Zarco (Monster Yamaha) en Jack Miller (Ducati) was ook goed geplaas.

Die besprekingspunt van die dag was toe Zarco in die vyfde ronde teen ʼn snelheid van 300 km/h kontak gemaak het met Marquez en Zarco geval het. Marquez se motorfiets het ook skade gehad en hy moes handdoek ingooi.

Met 20 rondes oor was Maverick Vinales (Movistar Yamaha) voor met Valentino Rossi (Movistar Yamaha) tweede en Andrea Dovizioso (Ducati) derde.

Met tien rondes oor het Maverick Vinales (Movistar Yamaha) die eerste posisie beklee met Andrea Dovizioso (Ducati) tweede en Alvaro Bautista (Ducati) derde.

Die uiteindelike wenner was Maverick Vinales (Movistar Yamaha) met Andrea Iannone (Suzuki) tweede en Andrea Dovizioso (Ducati) derde.

Op die jongste punteleer is Marquez nou met 88 punte voor.

1 Marc Marquez (Repsol Honda) 296
2 Andrea Dovizioso (Ducati) 210
3 Valentino Rossi (Movistar Yamaha) 195
4 Maverick Vinales (Movistar Yamaha) 180

In Moto2 het Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) eerste oor die eindstreep gejaag. Hy is tans derde op die punteleer.

Die Moto3 wedren is deur Albert Arenas gewen met Suid-Afrika se Darryn Binder 12de.

Die volgende MotoGP word komende Sondag (4 November) in Maleisië aangebied. Dit sal die tweede laaste wedren van die jaar wees.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.motogp.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.