Motorfietsrenne: Binder-broers sewende

Brad Binder (Junie 2021) (Foto: Lluis Gene/AFP)

Suid-Afrika se Brad en Darryn Binder moes Sondagmiddag in Aragon in die Spaanse Grand Prix vir motorfietse weer met sewende plekke tevrede wees.

Brad, wat 12de in die MotoGP weggespring het, was met een rondte oor nog sesde, maar hy is deur Enea Bastianini, wat op ʼn Ducati gejaag het wat twee jaar oud is, uitgeskuif.

Die resies is deur Francesco Bagnaia (Ducati) gewen, wat die agtste verskillende jaer is wat vanjaar kon wen. Dit was sy eerste MotoGP-oorwinning en die 250ste sege deur ‘n Italianer in belangrike renne.

Marc Marquez (Honda) was tweede, gevolg deur Joan Mir (Suzuki), Aleix Espargaro (Aprillia), Jack Miller (Ducati), Bastianini en Binder.

Binder is steeds sesde op die kampioenskapspuntelys met Fabio Quartararo, ondanks sy agste plek, steeds voor, gevolg deur Bagnaia en Mir.

* In die Moto3-ren was Darryn Binder (Honda) in die voorste wegspringposisie, maar hy is reeds aan die einde van die eerste rondte deur die Argentyn Gabriel Rodrigo verbygesteek.

Binder het sewende geëindig, met Dennis Fogia (Honda) eerste, gevolg deur Denis Oncu (KTM) en Ayumu Sasaki (KTM) derde.

Die volgende Grand Prix is komende Sondag se Italiaanse Grand Prix in Misano.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charl ·

Aanhouer wen ! Ek’s trots op die binder broers, hulle hou ons naam hoog in die vreemde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.