Motorfietsrenne: Darryn Binder skuif Brad weer uit kollig

Darryn Binder (Foto: Darryn Binder/Facebook)

Die jonger Binder-boetie, Darryn, het Sondag weer die kollig op hom laat skyn, en nie ouer broer Brad nie, tydens die Aragon-Grand Prix vir motorfietse in Spanje.

Die 22-jarige Darryn, wat ʼn paar weke gelede teen alle verwagting in eerste in die Kataloniese Moto3-ren geëindig het, het Sondag nog ʼn podiumplek beklink toe hy tweede in die Moto3-ren was.

Die resies is deur Spanje se Jaume Masia (Honda) gewen met Binder (KTM) tweede nadat hy in die voorste wegspringposisie was.

Deur goed in die Moto3 te vaar, word die deure oopgeswaai om tot Moto2 bevorder te word en as alles goed verloop, om eendag in MotoGP te jaag.

Brad het in 2016 die Moto3-titel gewen en só die aandag op hom gevestig.

Darryn (82 punte) is negende op die kampioenskapspuntelys, met Albert Arenas die voorloper.

* In die MotoGP was Brad weer bestendig toe hy 11de geëindig het nadat hy 16de weggespring het.

Dit klink dalk ʼn bietjie teleurstellend vir die ondersteuners, maar onthou hy draf saam met die groot honde van Moto3 in sy eerste jaar. Hy het boonop net 13.2 sekondes agter Rins verby die geruite vlag gejaag … ook voor sy veelgeroemde spanmaat, Pol Espargaro en ander hardebaarde soos Iker Lecuona, Danilo Petrucci en Fabio Quartararo.

Die ren is deur Alex Rins (Suzuki) gewen met Alex Marquez (Honda) tweede en Joan Mir (Suzuki) derde.

Mir (121 punte) is nou ook die nuwe voorloper op die kampioenskapspuntelys gevolg deur Quartararo (115) en Maverick Vinales (109) met nog net vier renne oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.