Motorfietsrenne: Die Binder-gesin stewig in kollig

Brad Binder. Foto: Instagram

Suid-Afrika se Brad Binder het Sondagaand in Doha gewys dat hy niks van sy vaardighede ingeboet het nie toe hy agtste in die Doha Grand Prix van Katar se MotoGP geëindig het.

Wat Binder se prestasie meer merkwaardig maak, is dat hy in die 18de posisie weggespring het en in die laaste rondte nog tiende was.

Hy het op die ou einde net 4,979 sekondes agter die wenner geëindig.

Tel maar tot vyf en dit sal ʼn aanduiding wees hoe naby die toptien aan mekaar was toe hulle verby die geruite vlag gejaag het.

Onthou, dis die wêreld se beste motorfietsjaers, dis teen die wêreld se beste fabriekspanne.

Die ren is deur Fabio Quartararo (Yamaha) gewen, met Johann Zarco (Ducati) tweede en die groentjie Jorge Martin (Ducati) derde.

Martin, in slegs sy tweede MotoGP, was tot vier rondtes van die einde af nog voor voordat Quartararo hom verbygesteek het.

Met Quartararo se oorwinning en Martin derde, was dit die eerste keer in byna 60 jaar dat twee Franse op die podium gestaan het.

* In die Moto3-ren het Brad Binder se jonger boetie, Darryn, weer die tonge los gehad toe hy tweede geëindig het, slegs 0,039 sekondes agter die wenner.

Die resies is deur die 16-jarige Pedro Acosta (Red Bull KTM) gewen, gevolg deur Binder (Petronas Sprinta Racing) en Niccolo Antonelli (Reale Avintia Moto3) derde.

Darryn Binder was in verlede week se openingsren derde en met sy tweede posisie is hy ook tweede op die Moto3 se kampioenskapspunteleer met 36 punte.

Acosta (45) loop voor, maar daar moet nog baie water in het see loop.

Die volgende ren vind op 18 April in Algarve in Portugal plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.