Motorfietsrenne: Vaal dag vir Binder-broers

Argieffoto: Brad Binder/Instagram

Die Nederlandse Grand Prix vir motorfietse het Sondag op die Assen-baan maar min opwinding vir die twee Binder-broers opgelewer, afgesien daarvan dat die jongste, Darryn, met drie plekke gestraf is omdat hy kort voor die einde nie op die baan gebly het toe hy ander jaers verbygesteek het nie.

Hy het aanvanklik vierde geëindig, maar is met drie plekke gestraf.

In die MotoGP het ouer broer, Brad, in die 21ste posisie weggespring nadat hy bandeprobleme in kwalifisering ondervind het. Dit was ’n groot teleurstelling nadat hy verlede Sondag vierde in die Duitse Grand Prix geëindig het.

Binder het weliswaar 12de geëindig, maar omdat ʼn paar van die ander jaers voor hom, soos Jack Miller en Valentino Rossi, ná ongelukke nie die ren kon voltooi nie.

Die Fransman Fabio Quartararo (Yamaha), wat ook die voorloper is op die kampioenskapspunteleer, was eerste, gevolg deur Maverick Vinales (Yamaha) en Joan Mir (Suzuki).

Binder, wat slegs vier punte verower het, het na die negende posisie (60 punte) op die puntelys teruggesak.

Quartararo (156 punte) is steeds gerieflik voor, gevolg deur Johann Zarco (122) en Francesco Bagnaia (109).

* In die Moto3-afdeling was Honda se Dennis Foggia eerste oor die wenstreep, gevolg deur Sergio Garcia (GASGAS) en Romano Fenati (Husqvarna).

Daar was darem ʼn bietjie drama voor die wegspring toe die renbeamptes ses jaers, Jaume Masia, Lorenzo Fellon, Yuki Kunii, Andi Farid Izdihar, Joel Kelso en Takuma Matsuyama, met tydboetes vir hul onverskillige jaagwerk gestraf het.

Die jong Pedro Acosta, wat met rugprobleme in die hospitaal was, het kort voor die Grand Prix eers die jawoord gekry om te jaag en hy het vierde geëindig.

Hy is steeds voor op die puntelys met Binder sesde.

* Die volgende ren is op 8 Augustus wanneer die Stiermarkse Grand Prix in Spielberg, Oostenryk, plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.