Motorsport: Hamilton kraai koning in F1-kampioenskap

Lewis Hamilton. Foto: AP Photo/Eduardo Verdugo

Die 71ste seisoen van Formule 1 het vanjaar op 26 Maart in Australië afgeskop en vandag 26 November in Abu Dhabi geëindig. Vandag het die laaste van 20 renne plaasgevind. Valtteri Bottas het eerste oor die wenstreep gejaag, Lewis Hamilton tweede en Sebastian Vettel het die finale trap op die podium ingeneem.

2017 se F1-kampioen, Lewis Hamilton, het dié titel reeds in Mexiko vasgemaak met genoeg punte dat die ander renjaers hom nie sou kon inhaal nie. Hamilton het die seisoen afgesluit met 363 punte, 46 voor Sebastian Vettel met 317. Valtteri Bottas het die derde plek in die kampioenskap behaal met 305 punte.

Lewis Hamilton het 11 keer dié jaar in die eerste plek weggespring, teenoor Sebastian Vettel met vier, Valtteri Bottas ook met vier en Kimi Räikkönen helaas net met een. Dus het slegs Mercedes-Benz en Ferrari dié jaar in die eerste plek weggespring. Lewis Hamilton het ses vinnigste rondtes ingepalm, Sebastian Vettel vyf, Kimi Räikönen twee en dan Sergio Pérez, Fernando Alonso, Daniel Ricciardo en Max Verstappen elkeen een.

Sebastian Vettel. Foto: AP Photo/Andre Penner

Teen die somervakansie het Sebastian Vettel voorgeloop op die punteleer, maar Hamilton en sy Mercedes-Benz het in volle krag ná die breuk teruggekeer en die titel opgeraap. Mercedes-Benz het die vervaardiger-kampioenskap in die VSA vasgemaak tydens die 4de laaste wedren van die jaar.

ʼn Frustrerende seisoen vir McLaren Honda het die verhouding laat versuur tot die punt waar McLaren paaie geskei het met Honda as enjinverskaffer en in 2018 met Renault-kragbronne sal ry. Torro Rosso beweeg dan ook weg van Renault-kragbronne en sal McLaren se plek inneem by Honda. In 2018 gaan die ligkrans bekend gestel word as kajuitbeskermingstoestel.

Pierre Gasly, 2016 se GP2-kampioen en Brendon Hartley, WEC-kampioen, sluit by Torro Rosso aan as hul renjaers vir 2018. Williams het ʼn oop sitplek ná Felipe Massa bekend gemaak het dat hy aan die einde van 2017 aftree. Williams het reeds vir Robert Kubica, Sergey Sirotkin, Daniil Kvyat, Pascal Wehrlein en Paul di Resta getoets vir dié sitplek – maar geen besluit is tot dusver geneem nie. Daar is een stoel oop by Williams en twee by Sauber. Dié aankondigings sal seker binnekort volg, maar al die ander spanne en hul renjaers is reeds vasgemaak.

Die voorlopige kalender vir 2018 toon die verwydering van die Maleisiese Grand Prix, en Duitsland keer terug ná een jaar se breuk. F1 sal weer vir die eerste keer sedert 1990 terugkeer na Circuit Paul Ricard in Frankryk – waar F1 sedert 2008 nie te sien was nie. Daar is dus 21 wedrenne op 2018 se kalender – ons sien uit daarna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.