Motorsport: Verstappen-fout kan keerpunt wees

Max Verstappen nadat hy sy Red Bull Saterdagaand teen ʼn muur om die laaste draai gebots het. (Foto: ANDREJ ISAKOVIC / POOL / AFP)

Max Verstappen se fout om die laaste draai tydens kwalifisering vir die Grand Prix van Saoedi-Arabië in Jeddah kan die keerpunt wees in sy tweestryd met Lewis Hamilton. Verstappen het sy Red Bull teen ʼn muur gebots en die moontlike skade aan die ratkas kan hom in vanaand se wedren duur te staan kom. Sou die ratkas vervang moet word, sal hy gestraf word en afskuif op die wegspringplekke.

Verstappen was op pad om die vinnigste tyd aan te teken en in die voorste plek weg te spring, maar toe vat hy ʼn té groot kans. Nou spring Hamilton voor weg en sy Mercedes-spanmaat Valtteri Bottas spring in die tweede posisie weg. Verstappen is in die derde wegspringplek.

“Ek verstaan nie eintlik wat gebeur het nie. Ek het die wiele bietjie gesluit,” het Verstappen na sy ongeluk gesê.

“Dit was verskriklik, maar oor die algemeen was dit goeie kwalifiseringsrondes. Dit was moeilik om die bande aan die gang te kry want dis ʼn straatbaan, maar ek het geweet die spoed is daar.”

Max Verstappen nadat hy sy Red Bull Saterdagaand teen ʼn muur gebots het. (Foto: ANDREJ ISAKOVIC / POOL / AFP)

Hamilton het Verstappen se voorspring in die bestuurderskampioenskap verklein tot agt punte nadat hy die wedrenne in Brasilië en Katar gewen het. Die momentum is in Hamilton se guns en hy spring vir die vyfde keer hierdie seisoen en die 103de keer in sy loopbaan voor weg.

Sou Verstappen vanaand se wedren wen en Hamilton eindig nie in die topses nie, sal hy as wêreldkampioen gekroon word. Sou dit nie gebeur nie, is alles op die spel in volgende naweek se Grand Prix in Abu Dhabi.

Charles Leclerc (Ferrari) en Sergio Perez in die ander Red Bull spring onderskeidelik in die vierde en vyfde plekke weg.

Hamilton se dag het nie sonder drama verloop nie. Hy is deur beamptes ingeroep omdat hy glo nie stadiger gery het toe twee geel vlae geswaai is nie en ook vir Nikita Mazepin (Haas) geblok het tydens kwalifiseringsrondes. Hamilton het skotvry daarvan afgekom nadat beamptes erken het die twee vlae is per ongeluk geswaai. Mercedes is R450 000 beboet vir die Mazepin-voorval.

Verstappen is verlede maand in Katar met vyf wegspringplekke gestraf toe hy ook nie gehoor gegee het aan die twee geel vlae nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Maar hy gaan nog steeds tweede kom en 18 punte kry verstaan ek van siener van rensburg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.