Motorwedrenne: Verstappen wen in F1 en Marques in Moto GP

Max Verstappen. Foto: Ronald Zak / AP

Die Oostenrykse Formule Een Grand Prix (die negende wedren van die seisoen) is Sondag op die “Red Bull Ring” deur Red Bull se Max Verstappen gewen. Kimi Räikkönen (Ferrari) het die tweede plek ingeneem en Sebastian Vettel (Ferrari) was derde.

Die Nederlandse MotoGP (die agtste van die seisoen) is ook Sondag afgehandel en op die baan van Assen gejaag. Marc Marques op sy Repsol Honda het sake oorheers en eerste geëindig. Alex Rins (Suzuki) was tweede met Maverick Vinales (Movistar Yamaha) derde.

Die naweek se Formule Een-verhaal het met die oefenrondes en kwalifisering begin. Mercedes het sake oorheers en Valtteri Bottas (Mercedes) was eerste op die wegspringrooster met sy spanmaat Hamilton tweede. Kimi Räikkönen (Ferrari) het die derde plek ingeneem. Sebastian Vettel (Ferrari) is met drie sekondes gestraf vir ʼn oortreding tydens die oefenrondes en moes sesde wegtrek.

Tydens die wedren oor 71 rondes het Nico Hulkenburg se Renault aan die brand geslaan, Valtteri Bottas (Mercedes) moes onttrek weens hidrouliese probleme, Daniel Ricciardo (Red Bull) se enjin het ingegee en Lewis Hamilton (Mercedes) moes twee keer die kuipe besoek om bande te ruil. Boonop het Hamilton se motor in die 64ste ronde meganiese probleme opgedoen en sy wedren was iets van die verlede.

Max Verstappen (Red Bull) het vir ʼn groot gedeelte van die wedren voorgejaag en uiteindelik die wedren gewen. Kimi Räikkönen (Ferrari) het die tweede plek ingeneem en Sebastian Vettel (Ferrari) was derde.

Op die punteleer is Sebastian Vettel (Ferrari) die nuwe voorloper met 146 punte. Lewis Hamilton (Mercedes) is tweede met 145 punte. Kimi Räikkönen (Ferrari) is derde met 101 en Daniel Ricciardo (Red Bull) beklee die vierde plek met 96 punte.

Die Moto GP se kwalifisering is deur Honda oorheers. Die wegspringrooster se eerste plek is dan ook deur Marques ingeneem. Cal Crutchlow (LCR Honda) was tweede terwyl die voorste ry volgemaak is deur Valentino Rossi (Movistar Yamaha).

Die voorloper op die punteleer, Marc Marquez (Repsol Honda), was eerste oor die wenstreep en het sy voortou na 41 punte geneem. Die tweede plek is ingeneem deur Alex Rins (Suzuki) met Maverick Vinales (Movistar Yamaha) derde.

Op die jongste punteleer is Marc Marques (Repsol Honda) voor met 140  punte. Valentino Rossi (Movistar Yamaha) is met 99 punte tweede en Maverick Vinales (Movistar Yamaha) derde met 93.

In die Moto2-wedren was Suid-Afrika se Brad Binder sewende en Steven Odendaal 20ste. In Moto3 het Darryn Binder sewende geëindig.

Klik hier vir meer inligting: https://www.formula1.com/ of http://www.motogp.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.