Murray laat staan sy kleitrappery

Andy Murray vier sy Dominic Thiem-oorwinning. Foto: Twitter.

Andy Murray het lanklaas ’n wedstryd op ’n kleibaan gewen; sy laaste sege op dié baanoppervlak was tydens die 2017-weergawe van die Franse Ope toe hy met Kei Nishikori afgereken het.

Maar ná ’n goeie vertoning teen Dominic Thiem in Madrid lyk dit of sy kleitrapdae darem (tydelik) iets van die verlede is.

Die voormalige wêreldno.1-speler het sy Oostenrykse teenstander met 6-3 en 6-4 in die Spaanse hoofstad afgestof om ’n ontmoeting met Denis Shapovalov te verseker.

“Ek het die wedstryd geniet. Ek het baie hard vir hierdie toernooi geoefen en ek wil graag ’n goeie vertoning lewer,” het die Skotse speler gesê.

Murray was met nege kishoue in die kol en hy het glad nie soos ’n speler gelyk wat veronderstel is om op kleibane te sukkel nie.

“In my laaste kleiwedstryd het ek met ’n liesbering gesukkel en glad nie goed gevoel nie. Maar teen Dominic het ek maklik rondbeweeg en ’n goeie wedstryd gespeel.”

Die 34-jarige Murray was vroeër ook krities oor die besluit om Russiese en Belarussiese spelers te verbied om op Wimbledon af te slaan.

“Soos wat ek dinge verstaan het, sou die spelers toegelaat word om te speel as hulle ’n verklaring onderteken het waarin hulle sê dat hulle teen die oorlog gekant is en nie die besluite van die Russiese regering ondersteun nie.

“Ek het met Russiese spelers gesels en ek het met Oekraïense spelers gesels. Ek het empatie met die spelers wat nie toegelaat word om te speel nie en ek kan dit verstaan as hulle voel dat die besluit onregverdig is.”

  • Ander Madrid-uitslae:

Lucas Pouille klop Karen Khachanov met 6-3 en 6-4.

Gael Monfils klop Carlos Valero met 6-3 en 6-0.

Alejandro Fokina klop Lloyd Harris met 7-5 en 6-3.

Cameron Norrie klop Kwon Soon-woo met 7-5 en 7-5.

Diego Schwartzman klop Benoit Paire met 6-2, 6-7 en 6-1.

Denis Shapovalov klop Ugo Humbert met 7-6 en 6-3.

Simona Halep klop Coco Gauff met 6-4 en 6-4.

Amanda Anisimova klop Victoria Azarenka met 6-1 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.