Murray meen hy kan nog topspelers stuit

Die Skot, Andy Murray. (Foto: Grant Halverson/Getty Images/AFP Photo.)

Terwyl van die wêreld se voorste spelers nog spook om die klei van Roland-Garros uit hul wit sokkies te kry, het Andy Murray ʼn grasbaan-waarskuwing gerig.

Die 36-jarige Skot het juis besluit om die Franse Ope mis te loop sodat hy op die grasbaantoernooie kan konsentreer en hy het terstond met Chung Hyeon in sy openingswedstryd van die Surbiton-uitdaagtoernooi in Londen afgereken.

“Ek het vertroue in my vermoë dat ek met die beste spelers ter wêreld kan saamgesels. Ek het verlede jaar vir Nick Kyrgios geklop – en hy het in die eindstryd van Wimbledon gespeel – terwyl ek ook vir Stefanos Tsitsipas gewen het,” het Murray gesê.

Die 36-jarige speler het Januarie ook die horlosie teruggedraai toe hy met vindingryke spel vir Matteo Berrettini in Australië oorrompel het.

Die eindtelling was 6-3, 6-3, 4-6, 6-7 en 7-6 in die Skot se guns.

Murray is tans 43ste op die amptelike ATP-ranglys en hy meen dat hy nog ʼn punteleersprong of twee kan maak.

“Ná my heupoperasie het dokters vir my gesê dat ek dalk nie weer sal kan speel nie; ek wil nou kyk hoe ver ek dinge kan vat. Ek wil nog wen en ek wil aan toernooie deelneem.”

Maroela Media het vroeër berig dat Murray in ʼn skynwêreld waarskynlik as die voorste speler op die internasionale verhoog bekend sou staan.

In die “Groot Drie” [Novak Djokovic, Roger Federer en Rafael Nadal] se afwesigheid kon die Skot 17 Grand Slam-titels ingeoes het.

Dit was hom helaas egter nie beskore nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.