Murray skenk prysgeld aan kinders in Oekraïne

Andy Murray veg vir kinders in Oekraïne. Foto: William West/AFP.

Andy Murray, die voormalige wêreldno. 1-speler, het vandeesweek aangedui dat hy sy prysgeld vir die res van die jaar aan Unicef sal skenk met die spesifieke doel om kinders in Oekraïne te help.

Sedert Rusland verlede maand sy buurland ingeval het, het miljoene mense reeds uit Oekraïne gevlug; baie van hulle is kinders.

“Meer as 7,5 miljoen kinders is weens die konflik in gevaar en daarom het ek hande met Unicef gevat om dringende mediese voorraad en ander hulpmiddels te verskaf,” het die 34-jarige Brit getwiet.

Volgens Murray is die stories, beeldmateriaal en foto’s wat deur nuusagentskappe wêreldwyd uitgestuur word ’n wekroep vir almal.

“Ek kan my nie eens indink hoe ’n mens deur dit alles moet leef nie. Ek is self ’n pa en dit is veral erg om te sien hoe kinders ly.”

Onderwys is vir Murray baie belangrik en hy het bygevoeg dat hy saam met Unicef hom daartoe sal beywer om toe te sien dat Oekraïense kinders steeds voldoende onderrig ontvang, terwyl skole wat in die aanvalle beskadig is so gou as moontlik herstel word.

“’n Mens voel ’n bietjie magteloos, maar die beste manier waarop ek ’n bydrae kan maak, is deur die wêreld se aandag op die kinders se lot te vestig en om geld in te samel. Die kinders van Oekraïne het vrede nóú nodig.”

Die tweemalige Grand Slam-wenner het met die ATP- en WTA-beheerliggaam se besluit saamgestem dat individuele spelers van Rusland en Belarus nog aan groot toernooie mag deelneem.

“Ek het al met ’n paar mense hieroor gesels en almal glo dat die individuele spelers niks verkeerd gedoen het nie. Maar ek sal dit verstaan as Rusland en Belarus verbied word om aan spankompetisies deel te neem.”

  • Maroela Media het Maandag berig dat Novak Djokovic onderneem het om vir Sergiy Stakhovsky finansieel te ondersteun.

Stakhovsky is terug in Oekraïne om sy geboorteland teen die Russiese inval te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Well done, old chap. Respek. Ek het nou weer respek vir ‘n engelsman.

Wondermaarnet ·

Wat ‘n wonderlike gebaar. Mag die geld goed aangewend word waarvoor hy dit skenk. Jy verdien respek en mag dit met jou loopbaan baie goed gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.