Murray slaan pro-entstofkishou

Die Skot, Andy Murray. Foto: Grant Halverson/Getty Images/AFP Photo.

’n Rukkie nadat Stefanos Tsitsipas gesê het dat hy slegs teen Covid-19 ingeënt sal word as dit verpligtend is om in toernooie te kan speel, het Andy Murray op die vooraand van die Amerikaanse Ope die hoop uitgespreek dat meer spelers sal besluit om die entstof te neem.

“Ek dink die hoofrede waarom almal besluit om die entstof te neem, is omdat ons die gesondheid van lede van die publiek ook in ag neem,” het die 34-jarige Skot gesê.

“Omdat ons as spelers wêreldwyd reis, het ons ’n verantwoordelikheid teenoor ander mense. Ek is bly dat ek ingeënt is en ek hoop dat meer spelers in die komende maande ook sal besluit om dit te doen.”

Organiseerders van die Amerikaanse Ope-toernooi het juis gesê dat ondersteuners (ouer as 12 jaar) ’n bewys van inenting moet toon as hulle die wedstryde wil bywoon.

ATP-base moedig spelers aan om ingeënt te word, terwyl spelers soos Roger Federer en Rafael Nadal aangedui het dat hulle ten gunste van die entstof is.

“Die enigste manier om uit hierdie Covid-19-nagmerrie te ontsnap is die entstof en dit is ons verantwoordelikheid om dit te aanvaar,” het Nadal destyds gesê nadat sy oefenmaat, Daniil Medvedev, positief vir die virus getoets het.

Daarteenoor het Novak Djokovic al in onderhoude die hoop uitgespreek dat ’n inenting nie verpligtend vir spelers word nie, asook dat spelers die vryheid gegun word om hul eie keuse te maak.

“Ek wil nie gebrandmerk word as iemand wat vir of teen die entstof is nie en ek vra dat almal dit sal respekteer,” het Djokovic destyds gesê.

Stefanos Tsitsipas. Foto: (AP Photo/Kirsty Wigglesworth)

Volgens Tsitsipas is dit nog nie verpligtend vir tennisspelers om ingeënt te word nie.

“Ek sal my seker die een of ander tyd moet laat inent, maar dit is nie verpligtend nie en ek het dit nog nie gedoen nie,” het Tsitsipas gesê.

Sy uitlatings het egter die Griekse regering omgekrap en volgens Giannis Economou (regeringswoordvoerder) beskik die jong tennisspeler nie oor die nodige kennis om sulke uitlatings te maak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Biltong

Andy, nie jy of enigiemand anders op aarde het enige verantwoordelikhede teenoor my nie. Ek sal my eie potjie krap, dankie.

JohanCzu

As die toeskouers verplig is om ingeent te wees is dit seker niks minder as reg as die spelers dan ook verplig word nie. Die wat weier hoef kan dan hulle reg tot keuse uitoefen en nie deelneem nie, net soos toeskouers wat weier ook dan kan kies om tuis te bly.

Enkeling

Jip, niemand is verantwoordelik vir my gesondheid, finansies, veiligheid, of enigiets anders nie.

Frank

Miskien moet iemand net vir Murray sê dat al is hy ge-ent, hy nog steeds die virus kan kry en nog steeds kan oordra. Die enting gaan nie die virus verspreiding stop nie. Hy muteer in elk geval.
Wanneer die virus vlae eendag gaan stop, is ‘n besluit wat die Here self sal neem.