Muurklimmers wil regulasie-hindernis oorkom

Ter illustrasie. Foto: Twitter.

As gevolg van die regulasies wat ingestel is om die Covid-19-pandemie te bestry, is talle besighede reg oor Suid-Afrika in ’n bitter moeilike finansiële posisie.

En dieselfde geld vir die fiksheidsbedryf. GolfRSA het onder andere die naweek sy ontevredenheid uitgespreek ná die departement van sport, kuns en kultuur se mediakonferensie oor die invloed van vlak 3 op sport.

Volgens die regulasies mag professionele spelers oefen, maar amateurs word nie op die bane toegelaat nie.

Plaaslike muurklimklubs sit in dieselfde bootjie. Rockvalley Climbing is ’n binnenshuise muurklim-, fiksheid- en opleidingsfasiliteit in Centurion. Net soos met enige muurklimklub reg oor die land maak hulle inkomstegewys ten volle staat op lede se maandelikse lidmaatskapgeld.

“Vandat die staat van inperking aangekondig is, het ons inkomste met meer as 96% geval. Dit is egter nie net uniek tot ons besigheid nie, maar dit het ’n invloed op almal in die fiksheidsbedryf.

“Terselfdertyd is ons egter ook ongelooflik dankbaar vir lede wat ons so ver as moontlik ondersteun,” het Rockvalley se Tiaan Bouwer gesê.

Saam met ander binnenshuise muurklimklubs – soos The Climbing Barn, City Rock, Valley Crag, Hangtime, Block 11, Southern Rock en C4-climbing – het hulle gesamentlik hul saak aan die provinsiale, sowel as die nasionale muurklimbeheerliggame voorgelê.

Nadat al die betrokkenes geraadpleeg is, is ’n deeglike voorstel saamgestel. Dit is op 15 Mei aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) voorgelê.

Tot dusver het hulle geen terugvoer ontvang nie.

Muurklim is juis nie ’n kontaksport nie en elke lid is verantwoordelik vir sy eie toerusting. Nodeloos om te sê is dit maklik om ’n afstand van selfs ’n hele paar meter te handhaaf.

“Ons opleidingsgeriewe is ook nie ’n openbare fasiliteit nie en sodoende kan ons maklik die aantal mense beperk wat op ’n slag klim. Boonop voldoen dit ook 100% aan die regering se Covid-19-voorkomingsmaatreëls.”

Verder is muurklim sedert verlede jaar ’n erkende Olimpiese sportsoort. “Met die oog op volgende jaar se Olimpiese Spele, moet ons atlete sou gou as moontlik toegelaat word om te oefen sodat hulle Suid-Afrika tot die beste van hul vermoëns kan verteenwoordig.

“Hoewel die landswye inperking nodig was, is ons van mening dat die verlenging nie net ons besighede skade aandoen nie, maar ook die sport in geheel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.