’n Aussie-partytjie wink met Barty in eindstryd

Australië se Ashleigh Barty. Foto: Martin Keep/AFP.

Ashleigh Barty is die eerste plaaslike vrouespeler in meer as 20 jaar om vir die eindstryd van die Australiese Ope te kwalifiseer.

Die 25-jarige Queenslander het Woensdag vir die VSA se Madison Keys met 6-1 en 6-3 ore aangesit om ’n eindstrydontmoeting hierdie Saterdag met Danielle Collins (nóg ’n Amerikaner) in haar dagboek neer te pen.

“Dit is ’n ongelooflike ervaring en ek is dankbaar dat ek hier in Melbourne van my beste tennis kan speel,” het Barty gesê.

Wendy Turnbull was die laaste Aussie om in ’n Melbourne-eindstryd af te slaan toe sy in 1980 teen Hana Mandlikova kragte gemeet het.

Hoewel Barty ongetwyfeld trots is om in Turnbull se voetspore te volg, sal sy nie haar eindstrydpad enduit wil stap nie: Mandlikova het immers destyds die silwerware omhoog gehou toe sy die kragmeting met 6-0 en 7-5 gewen het.

Maar die jong Aussie is ongetwyfeld die gunsteling om die komende eindstryd te wen.

Die topgekeurde speler het nog net 21 potte in Melbourne afgestaan, terwyl sy in haar laaste tien kragmetings as oorwinnaar van die baan gestap het.

Daarteenoor het Collins korte mette met Pole se Iga Swiatek (’n voormalige Franse Ope-wenner) gemaak om die wedstryd met 6-4 en 6-1 te wen.

En sy sien daarna uit om rakette met Barty in die eindstryd te kruis.

“Om teen die wêreld se voorste speler in haar geboorteland te speel gaan ’n wonderlike ervaring wees. Ek kan eintlik nie gelukkiger wees nie; dit het harde werk geverg om tot hier te kom,” het Collins gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Amelia

Ek sal bly wees vir Barty, maar wat Australië aanbetref – hulle verdien nie nou so ‘n sege nie.

Treurwilger

Kan net vir Collins se onthalwe hoop die Melbourne skare stel nie hul heel slegste gedrag en gebrek aan tennis-etiket ten toon op die dag nie.
Soos bv. ‘n geraas tussen eerste en tweede diene ens.
Medvedev het by die blote noem van Novak se naam ‘n luide ‘booo’ ontlok.
Hoeveel kleinliker kan dit nóg raak.