’n Goue dag vir SA se swemmers

Kaylene Corbett in aksie. Foto: Reg Caldecott.

Vergeet van die goudstormloop aan die Witwatersrand in die 19de eeu, Suid-Afrika se swemmers het gister in Marokko hul goudvindvernuf in die swembad tydens die 12de Afrikaspele uitgestal.

Die span het 11 medaljes (ses goud, drie silwer en twee brons) verower.

Michael Houlie het die aandsessie afgeskop met ’n goue medalje in die 50 m-borsslag. Sy tyd van 27,41 sek. was vinniger as Egipte se Youssef Elkamash (27,52 sek.) en Tunisië se Wassim Elloumi (28,27 sek.).

Dan was Martin Binedell vuurwarm in die water – hy het goud in die 200 m-rugslag (2:01,38 min.) en in die 4×100 m-vryslagaflos (3:21,63 min.) saam met Brad Tandy, Douglas Erasmus en Ryan Coetzee gesmaak.

Erin Gallagher was eerste by die eindpunt in die 100 m-vryslag (55,13 sek.) terwyl Emma Chelius derde (55,86 sek.) in dieselfde item was.

Die Gallagher/Chelius-vennootskap was ook deel van die 4×100 m-vryslagspan (saam met Jessica Whelan en Kerryn Herbst) wat met die goue medalje weggeswem het. Hul wentyd was 3:48,88 sek.

Tukkies se Kaylene Corbett (32,20 sek.) het die 50 m-rugslag gewen, terwyl Christin Mundell (32,70 sek.) tweede in dieselfde item was.

Ander medaljewenners:

  • Samantha Randle (silwer, 1 500 m-vryslag): 17:11:07 min.
  • Carla Antonopoulos (brons, 1 500 m-vryslag): 17:22,15 min.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae